NWU slot troon uit as Varsitybeker se Speler van die Toernooi
Al het die NWU se Varsitybekerspan nie daarin geslaag om die afgelope Maandag teen Maties oor die laaste hekkie te spring nie, is daar steeds een groot 2.02 meter ligtoring wat helder geskyn het. Hierdie ligtoring is natuurlik die NWU slot, Walt Steenkamp, wat vanjaar in die nommer 5 trui rugbykenners en ondersteuners gaande gehad …
Al het die NWU se Varsitybekerspan nie daarin geslaag om die afgelope Maandag teen Maties oor die laaste hekkie te spring nie, is daar steeds een groot 2.02 meter ligtoring wat helder geskyn het.
Hierdie ligtoring is natuurlik die NWU slot, Walt Steenkamp, wat vanjaar in die nommer 5 trui rugbykenners en ondersteuners gaande gehad het en welverdiend as die Speler van die Toernooi gekroon is.
Buiten die stewige R20 000 prysgeld vir sy uitstekende vertonings, is hy ook met ‘n nuwe motor vir die volgende sewe maande beloon, waarmee hy letterlik en figuurlik sy opwaartse rugbyreis kan voorsit.

“Dit was nog altyd een van my doelwitte om genomineer te word, en nou voel dit onwerklik dat ek gewen het. Ek is baie dankbaar vir my talent gestuur van Bo. Rugby is my passie en ek sal dit sover as wat ek kan, uitleef,” noem Steenkamp.
Hy het goeie kompetisie vir hierdie eer ook gehad met sy spanmaat, Tapiwa Mafura, sowel as die Matie en voormalige Puk, Marno Redelinghuys, wat in lyn vir die toekenning was. Tog het Steenkamp bo almal uitgetroon, nes hy gewoonlik in die lynstane doen. Volgens sy Varsitybekerafrigter, Jonathan Mokuena, is Steenkamp beslis Springbokmateriaal en dié toekenning is net ‘n bevestiging hiervan. “Hy is ‘n baie nederige en hardwerkende speler.
“Hy het ook baie selfvertroue op die veld en daar is hy ‘n ander dier. Hy is ook ‘n stil leier wat eerder met dade lei as woorde, en het vanjaar ‘n fantastiese invloed op die jonger spelers gehad,” het Mokuena vir Steenkamp geprys.


Steenkamp is die argetipiese slot met sy lang en stewige figuur wat goed met die bal in sy hande hardloop, solied in die lynstane is en ook plettervatte met gemak uitdeel. Sommige Shimlas-spelers sal vanjaar getuig dat sy verdediging ‘n mens met ‘n gejuig aarde toe bring.
Vir die blonde lynstaangeneraal is toekennings ook niks nuut nie, nadat hy verlede jaar ook die NWU Rugbyinstituut se Speler van die Jaar-toekenning ontvang het.
“Dit was my laaste jaar van Varsity Cup en ek dink dit is van die lekkerste rugby, maar ek voel reg om aan te beweeg na die volgende uitdaging.
“Met rugby weet mens nooit wat gaan gebeur nie, maar as alles goed verloop, sal ek in Junie vanjaar by ‘n Franse klub aansluit.
“Ek wil vir my afrigters, span, familie, vriende en vir al die Pukke baie dankie sê vir die ondersteuning.”




