Riaan Swart wen NW Ope
Die Potchefstroom Buiteklub se Riaan Swart is die wenner van die gesogte Noordwes Ope Gholftoernooi wat vanaf 13-15 April by die Potchefstroom Buiteklub plaasgevind het. 144 spelers het vir die toernooi ingeskryf, met 54 putjies wat oor die drie dae gespeel is. 18 op Vrydag en 18 op Saterdag, waarna die getal spelers gesny is …
Die Potchefstroom Buiteklub se Riaan Swart is die wenner van die gesogte Noordwes Ope Gholftoernooi wat vanaf 13-15 April by die Potchefstroom Buiteklub plaasgevind het.
144 spelers het vir die toernooi ingeskryf, met 54 putjies wat oor die drie dae gespeel is. 18 op Vrydag en 18 op Saterdag, waarna die getal spelers gesny is tot 60 spelers en almal wat op dieselfde telling geëindig het, om die laaste 18 op Sondag te speel. Van die top spelers in die land het deelgeneem, aangesien die toernooi in ag geneem word vir die kies van nasionale spanne.
Die naweek is gekenmerk deur ‘n uitstekende vertoning deur Riaan Swart van Potchefstroom Buiteklub. Hy het vanaf dag een die voortou geneem en vasgeklou aan sy voorsprong. Vrydag het hy ‘n telling van 65 (7 onder baansyfer) gespeel wat agt voëltjies en ‘n brouhou ingesluit het. Riaan se voorsprong was egter slegs een hou nadat Yurav Premlall van Glendower Gholfklub ‘n rondte van 66 aangeteken het en Warrick Purchase van Benoni Buiteklub ‘n 67.
Saterdag 14 April het Swart die krane behoorlik oopgedraai en die baanrekord van die Buiteklub geëwenaar deur ‘n rondte van 63 te speel. Die rondte het 8 voëltjies en nege syfers ingesluit. Sy totaal was 128, oftewel 16 onder baansyfer, na die tweede rondte.
Warrick Purchase het sy eerste rondte van 67 opgevolg met ‘n rondte van 66 om in die tweede plek in te skuif op 133, (11 onder syfer). Na afloop van die tweede rondte is die veld gesny na die top 60 spelers en almal wat op dieselfde telling as die 60ste speler was. In totaal het 61 spelers aan die laaste rondte deelgeneem.
Sondag, 15 April 2018, het almal hulle oë op Riaan Swart gehad en hy was die teiken vir die top spelers. Stals Swart van Pretoria Buiteklub het sy beste gegee en kon ook die baanrekord ewenaar.
Hy het geteken vir ‘n telling van 63 wat sy op 200 te stand gebring het, 16 onder baan syfer. Na die vyftiende putjie was Riaan Swart gemaklik voor en was hy 21 onder baansyfer met 3 putjies om te speel. Die druk het begin werk en op die sestiende putjie het Riaan ‘n dubbele brouhou gespeel, sy totaal was nou 19 onder baansyfer. Ook by die 17de putjie het hy ‘n brouhou gespeel en terug gesak na 18 onder baansyfer. Riaan het egter kopgehou en die laaste putjie ‘n syfer aangeteken om sodoende die toernooi met twee houe te wen op ‘n telling van 198, 18 onder baan syfer.




