Gimmies se o.15A netbaldogters is wêreld se tweede beste
In ‘n naelskraap eindstryd verlede Vrydag (30 November) het Potchefstroom Gimnasium se o.15A-netbalspan hulle skool en land trots gemaak met ‘n fantastiese tweede plek by die Internasionale Netbal Jeugkampioenskappe in Singapoer. In hierdie toernooi wat vanaf 24-30 November plaasgevind het, het Marike Maree se span in die eindstryd met 27-26 verloor teen Mount Albert Grammar …
In ‘n naelskraap eindstryd verlede Vrydag (30 November) het Potchefstroom Gimnasium se o.15A-netbalspan hulle skool en land trots gemaak met ‘n fantastiese tweede plek by die Internasionale Netbal Jeugkampioenskappe in Singapoer.
In hierdie toernooi wat vanaf 24-30 November plaasgevind het, het Marike Maree se span in die eindstryd met 27-26 verloor teen Mount Albert Grammar School van Nieu-Seeland.
“Dit was een van die ongelooflikste ervarings vir hierdie span van my en hulle het die beste netbal nog gespeel, veral in die finaal teen Mount Albert Grammar School. Ons was agter met agt doele, in vyf minute het die meisies karakter gewys en ook uitgebeeld hoe sterk hulle is, deur terug te veg en ongelukkig met slegs een punt te verloor. Hulle het regtig hulle harte uitgespeel,” vertel Maree opgewonde.
Gimmies se o.15A netbalspan het bewys dat hulle onlangse oorsese netbalreis nie net oor die unieke ervaring gegaan het nie, maar dat hulle teen top skole in die wêreld hulle stempel kon afdruk.
“Ons het goed gedoen in die groepfase waar ons toe die top plek in Poel B bereik het. Dit het vir ons ‘n makliker roete in die uitspeelwedstryde gegee. Ons het SSP Hunters in die kwarteindstryd met 34-22 en vir West Coast Warriors met 37-15 geklop,” vertel Maree.
‘n Aspek wat tot die opbou en vorming van die span bygedra het was natuurlik die ervaring wat die spelers ook op hierdie oorsese toer van die baan af gedeel het.
“Dit was ‘n goeie stresontlader vir die meisies om ‘n paar van die toeristeaantreklikhede in Maleisië en Singapoer te kon sien. Dit het ook bygedra tot die hegtheid van die span en die meisies het baie gegroei tydens die toernooi.”
Volgens Maree het sy ook as afrigter waardevolle lesse tydens die toernooi geleer wat sy beslis in haar tyd as Gimmie-afrigter sal gebruik.
“’n Mens moet nooit ‘n ander span onderskat nie, veral in so ‘n groot internasionale toernooi. ‘n Mens moet al die pad gefokus bly.
“Dit was ook moeilik met kombinasies soms, maar later leer ‘n mens meer watter spelers in sekere posisies die beste kan gee,” vertel Maree wat volgende jaar haar span as die o.16A afrigter sal aanhou lei.
Uitslae:
• Saterdag 24 November speel Gimmies teen BJSS (Bukit Jalil Sports School Malaysia) en wen 37-14.
• Sondag 25 November speel Gimmies teen MAGS (Mount Albert School Grammar School) van Nieu-Seeland en wen 26-20.
• Sondag 25 November speel Gimmies die 2de wedstryd vir die dag teen Hong Kong Academy B en wen 30-22.
• Maandag 26 November speel Gimmies teen SSP Rangers (Singapore Sports School) en wen 45-8.
• Dinsdag 27 November speel Gimmies teen Melville Senior High (Australië) en wen 27-12.
• Woensdag 28 November: Kwart-finale – Gimmies behaal die top posisie in groep B en speel teen die vierde gekeurde span in groep A. Gimmies speel teen SSP Hunters (Singapore Sports School) en wen 34-22.
• Donderdag 29 November: Semi-finale. Gimmies speel teen West Coast Warriors van Australië en wen 37-15.
• Vrydag 30 November: Finale. Gimmies speel teen MAGS (Mount Albert Grammar School) van Nieu-Seeland en verloor net-net. Die finale telling was 27-26 vir MAGS.











