Hat-trick of the Week – 11 January
1.Puik Marco! Daar moet ‘n staande applous vir die Noordwes Dragons se veelsydige speler, Marco Jansen gegee word nadat hy die eerste Gimmies-speler geword het wat vir die SA o.19 Proteaspan gekies is. Jansen gaan saam sy o.19-spanmaats in Indië vanaf 16 Februarie tot 12 Maart hulle land verteenwoordig. Jansen se sukses is nie net …
1.Puik Marco!
Daar moet ‘n staande applous vir die Noordwes Dragons se veelsydige speler, Marco Jansen gegee word nadat hy die eerste Gimmies-speler geword het wat vir die SA o.19 Proteaspan gekies is. Jansen gaan saam sy o.19-spanmaats in Indië vanaf 16 Februarie tot 12 Maart hulle land verteenwoordig.
Jansen se sukses is nie net iets wat oornag gebeur het nie en na ‘n briljante 2018 op die krieketveld het hy behoorlik sy staal met beide bal en kolf bewys. In Februarie 2018 het hy die gulde geleentheid gekry om vir Indië se top spelers in die nette by die Wanderers te boul en slegs twee maande daarna het hy sy eersterangse debuut vir die Dragons gemaak – in die eindstryd teen Gauteng nogal, waar sy goeie boulwerk een van die sleutels tot sy span se sukses was. Verder het Jansen ook vir Potch Dorp en Gimmies met eer en lof verteenwoordig deur die loop van die seisoen. Jansen het toe by verlede maand se o.19 Khaya Majola Krieketweek die toekenning vir die veelsydigste speler van dié week behaal.
‘n Mens kan net raai wat die nuwe jaar vir Jansen gaan inhou. As hy aanhou om krieket met ‘n goeie kop op sy skouers te speel, sal hy nog groot hoogtes bereik. Die talent is beslis daar en moet nou net verder ontgin word.
2. Noordwes Krieket onder KSA se hande
Noordwes Krieket se verknorste finanasiële situasie is verlede jaar in die nasionale media aan die publiek bekendgemaak waar ‘n gebrek aan sisteme en moontlike bedrog van die oorsake was. Dit juis ten opsigte van stadion-opgraderings wat in 2017 by Senwespark plaasgevind het, nadat Krieket Suid-Afrika ‘n substansiële bedrag van R10 miljoen geleen het. Nadat Noordwes Krieket ‘n interne ondersoek geloods het en met die gebruik van ‘n arbeidsprokureur tot vele insigte gekom het, is daar besluit dat Krieket Suid-Afrika ‘n interne finansiële oudit doen met voormalige Noordwes President, Archie Pretorius aan die stuur van administratiewe en finansiële sake. Dit is nodig dat Noordwes Krieket weer vertroue in die plaaslike gemeenskap inboesem en ‘n nuwe blaadjie omslaan. Dit is ‘n taak vir diegene wat aan die stuur van sake is, om die legkaartstukke op te tel en weer te herbou. Dit is in plaaslike krieket se belang.
3. Deursettingsvermoë en ‘n doel voor oë
Daar is altyd nuwejaarsvoornemens by van ons stad se sportlui om trofeë te verower, persoonlike rekords te verbeter en in die algemeen beter as voorheen te doen. Een goeie voorbeeld waarna sportpersoonlikhede en die publiek na kan kyk, is hoe die meestersatleet, Carmen Meyer, haar durf en deursettingsvermoë gebruik het om geld vir kanker in te samel en 1 350km plat te trap. Meyer het hierdie onbegonne taak in Desember afgehandel en bewys dat daar enige iets bereik kan word met ‘n tikkie deursettingsvermoë voor oë.




