SportSport

Potchefstroom Swemklub maak nasionaal naam

Marike van Oort se swemmers het weer top prestasies behaal.

Potchefstroom Swemklub se swemmers het tydens 2019 se Suid-Afrikaanse Junior Swemkampioenskappe in Durban skitterend gevaar en puik prestasies behaal. Die SA-junior swemkampioenskappe is die hoogste vlak waaraan junior swemmers in Suid-Afrika kan deelneem.
Ewald Bartleman sluit sy 2018/2019 swemseisoen in top-vorm af. Ewald het vir die eerste keer aan hierdie gesogte kampioenskappe deelgeneem en swem persoonlike beste tye in elke item waaraan hy deelneem. Hy dring deur na die finale in die 200m-borsslag, 100m-borsslag, 200m-wisselslag en 200m-rugslag waarin hy onderskeidelik vierde-, sewende-, negende- en tiende posisies verower.

Hierdie spogtye sorg dat Ewald die NWS-rekords in die 200m-borsslag en 400m-wisselslag laat spat het. Idelé du Toit het tydens hierdie kampioenskappe haar beste gala van die swemseisoen geswem. Hierdie hoogtepunt besorg aan Idelé ’n baie verdienstelike vyfde posisie in die 100m-vlinderslag, ’n sesde posisie in die 200m IM, ’n sewende posisie in die 200m-vlinderslag en ’n agtste posisie in die 50m-borsslag.
Theo Ferreira blits die 100m-vlinderslag in slegs 59.43 af en hierdie spogtyd is ’n SA Youth kwalifiserende tyd. In die finale eindig Theo agtste en swem die item vir die eerste keer onder 60s – ’n ware prestasie. Daarby behaal hy nog SA Youth kwalifiserende tye in die 400m-kruipslag, 200m-kruipslag en 100m-kruipslag.

Vir Joël Kriek was die SA-junior swemkampioenskappe ’n eerste om sy klub te verteenwoordig en hy doen dit behoorlik. Hy stel persoonlike beste tye op in die 100m-rugslag, 200m-kruipslag, 200m-wisselslag, 50m-rugslag, 100m-vlinderslag en die 200m-rugslag. Hy verower sesde posisies in die 100m-rugslag en 50m-rugslag.

Nog ’n eersteling wat aan hierdie prestige kampioenskappe deelgeneem het, is Aiden Nel. Hy het verskeie persoonlike beste tye opgestel en die hoogtepunt vir hom was om na die finale in die 200m-borsslag deur te dring. Bianca Opperman, die goue kampioenswemmer van Potchefstroom Swemklub was ’n ware ster, want sy het uitgeblink in die 100m-kruipslag en verower die goue medalje in ’n skitterende wentyd van 58.42s.

Sy het almal en veral haarself verras met nog goue medaljes in die 50m-vlinderslag (28.67s) en 100m-vlinderslag (1:03.39s). Bo alles verower sy ook ’n goue medalje in die 100m-kruipslag (58.42s). Bianca het ook haar persoonlike beste tyd, ’n puik 32.83s, in die 50m-borsslag geswem. Sy dring vervolgens deur na die finale waartydens sy haar vorige tyd na 32.77s verbeter.

Hierdie pragprestasie word met ‘n silwermedalje beloon. In ’n tyd van 1:11.94 swem Bianca die 100m-borsslag en voeg nog ’n silwer medalje by haar medalje-oes van vyf medaljes. Hierdie skitterende SA senior nasionale kwalifiserende swemtye tye van Bianca is nuwe NWS-rekords in die 50m-borsslag, 100m-borsslag, 200m-borsslag, 100m-kruipslag, 200m-kruipslag en 100m-vlinderslag. Chazél Orton het verskeie persoonlike beste tye opgestel soos in die 400m-kruipslag (4:50.25), die 50m-kruipslag (29.77) en 200m-rugslag (2:33.16).

Die hoogtepunt vir Chazél was om in die finaal van die 200m-rugslag mee te ding. William-Stephen Slaughter het ook persoonlike beste tye in elke item wat hy geswem het, behaal soos 54.94s in die 100m-kruipslag en 29.77s in die 50m-rugslag.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button