André Pretorius deel sy Wêreldbeker-herinneringe
"Eerstens het ons ʼn plan onder Rassie Erasmus wat duidelik baie goed werk. So, ek sal sê die spelers en afrigtingspan moenie hul ore te veel aan die media en kritici uitleen nie. Hulle moet in hul bubbel bly en vir mekaar eerder as vir kritici speel."
Hy het meer as 1 500 eersterangse punte agter sy naam en spog met 31 toetse vir die Springbokke: Ja, André Pretorius is gewis een van Suid-Afrika se groot rugbyhelde.
Pretorius was ook een van Jake White se Springbokke wat in 20017 die IRR Wêreldbeker in Frankryk ingepalm het. Vandag is sy tuiste Potchefstroom waar hy die Luiperds se hoofafrigter en die Noordwes-Universiteit en Varsitybeker-aanvalsafrigter is. Met die Wêreldbeker wat oor sowat ʼn maand in Japan afskop deel Pretorius van sy herinneringe.
Hoe het dit gevoel toe Jake White jou in sy 2007 Wêreldbekergroep ingesluit het? Ek was baie verlig want die vorige jaar het beserings my nogal van die veld afgehou. Ek het amper begin hoop verloor, maar ek het die harde werk ingesit en danksy jope ondersteuning kon ek dit maak. Daai vertoning van jou teen Engeleand in 2006 wat vier skepdoele ingesluit het, het seker ‘n groot rol in jou insluiting gespeel? (Suid-Afrika se 25-14 sege was hul eerste oor Engeland ná agt agtereenvolgende nederlae, boonop op die tuise van rugby, Twickenham.) Din die groter konteks gesien dink ek so. In die vorige toets teen Engeland was Butch (James) besig om vir ons die toets te wen, maar ek het dit vir ons verloor toe ek hom weens ‘n besering vervang het. In die volgende toets het ek my kans gevat en vir Jake gewys ek het die vermoë om na ʼn terugslag op te staan.

Dink jy steeds dis jou beste vertoning in ‘n Springboktrui? Ja, ek dink so. Daar was iets van alles in daardie vertoning. Ek dink dit was my volledigste vertoning nog. Wie was van die interessante (lees stoutste) karakters in die 2007 span? Schalk Burger (lag hy dadelik) en Jaque Fourie. Jaque kon enige uitstappie baie lekker maak. En, CJ van der Linde ook! Vertel ons meer van kaptein John Smit se leierskap? Dit is moeilik om John Smit se leierskap in woorde te omskryf. Van alles soos hoe hy kritiek kon hanteer tot ʼn span bymekaar trek, hy was die beste kaptein onder wie ek nog ooit gespeel het. Sien jy van daardie eienskappe in die huidige Bokkaptein Siya Kolisi? Ek hou baie van wat ek sover van Siya gesien het. Ek dink oor die langtermyn gaan hy ʼn leier word wat hóóg geag gaan word. Wie was jou mees gedugte teenstanders? Tana Umaga en Ma’a Nonu. Om in hulle kanaal te verdedig was ʼn taai taak. En Jonny Wilkinson – hy kon alles doen. Hy kon goed verdedig en takties was hy briljant. Wie is die talentvolste speler wie jy al op die veld gesien het? Hy het dalk nooit sy volle potensiaal bereik nie, maar dis James O’Connor. Toe ek by die Force was het ek gesien dat hy absoluut alle sop ʼn veld kan doen. In Suid-Afrika laat Damian Willemse my baie aan hom dink. Wat is jou advies vir die ‘Bokke in die komende Wêreldbeker? Dit is moeilik. Eerstens het ons ʼn plan onder Rassie Erasmus wat duidelik baie goed werk. So, ek sal sê die spelers en afrigtingspan moenie hul ore te veel aan die media en kritici uitleen nie. Hulle moet in hul bubbel bly en vir mekaar eerder as vir kritici speel. Hoe sal jy die druk in die aanloop tot ‘n Wêreldbeker beskryf? Mens is baie meer opgewonde as senuweeagtig. Daar is nog nie ʼn wedstryd gespeel nie, die uitspeelrondes is nog ver op die horison en die afrigters toets kombinasies. Later raak dit meer intens, maar nou is dit nog ʼn balanseringspeletjie. Ons eerste wedstryd is teen Nieu-Seeland. Wat dink jy is ons kanse? Ek dink dit is baie goed. Ek sal verkies om eerste teen hulle te speel as later. Ek hou van hoe Rassie Erasmus uit die boks uit dink en ek glo hy gaan ʼn paar nuwe goed uit die hoed uit ruk wat ons nog nie gesien het nie. Laastens, wat was jou gunsteling wedstryd in ʼn Springboktrui? Die eindstryd van die 2007 Wêreldbekertoernooi hoewel ek nie eers ʼn minuut daarvan gespeel het nie. Dit was die hoogtepunt van ʼn onvergeetlike toernooi. Deur Bertie Jacobs



