Die NWU Krieketklub se eerstespan het hul tradisionele teenstanders, Potch Dorp, verlede Saterdag, 31 Oktober, met vyf paaltjies in die Noordwes Premier A-liga geklop.
Die wedstryd, waarin albei spanne se kolfwerk veel te wense oorgelaat het, het uiteindelik in ’n kragmeting ontaard waar een boulvertoning op die Ibbies Oval die meeste aandag getrek het.
Lleyton Troskie het sewe paaltjies vir slegs 16 lopies geneem om die hart uit Potch Dorp se kolforde te ruk. Potch Dorp was op ’n stadium op 112/2, maar is uiteindelik in die 35ste boulbeurt vir 147 uitgeboul.
Die NWU was tydens hul kolfbeurt op 88/5, maar Dawid Vermaak (50 van 34 balle) het seker gemaak dat hulle onoorwonne in die kompetisie bly. Hy het ’n vinnige vyftigtal aangeteken om die momentum na sy span se kant te laat swaai. Brian Thaele het 3/14 vir Potch Dorp geneem.

Die NWU is boaan die punteleer en speel komende naweek teen Impala in Rustenburg. Ibbies, wat ook op 15 punte is, maar een wedstryd meer gespeel het, pak Potch Dorp op Witrand. Ikageng is tans derde op die punteleer met 10 punte.
Die kragmeting tussen Ibbies en Potch Dorp beloof, soos gewoonlik, om ’n taai stryd te wees. Die wedstryde begin om 10:00.



