
Potchefstroom se top stapatlete het die afgelope naweek hulle eie voetspore van glorie by die 2019 SA Pad Stapkampioenskappe gelos toe hulle ‘n algehele derde plek vir Atletiek Sentraal Noordwes (ASNW) behaal het.

Agt atlete het met medaljes vanaf die snikhete toestande van Pretoria teruggekeer en dié span kan besonder trots wees op hulle briljante uitslae. Atletiek Gauteng Noord het die eerste plek behaal, met Atletiek Sentraal Gauteng tweede.
Zelda Schultz (20km senior dames ope), Antonio Farmer (junior mans 10km) en Janise Nell (5km dogters o.15) het goue medaljes verower, terwyl silwer aan Marizel Meintjies (5km dogters o.15), Eldané du Toit (3km dogters o.13), en Anette Koen (20km dames ope) gegaan het. Louis Koen (5km seuns o.15) het brons ingepalm. Petrus van Aarde (jeug seuns) het ‘n 5de plek behaal.
Schultz noem dat vanjaar se kampioenskappe juis uiters moeilik was omdat die atlete nie by die see kon deelneem (soos aanvanklik) nie en nou aan ‘n groter hoogte bo seespieël moes gewoond raak.
“Die byeenkoms het geskuif aangesien al die Kaapse spanne onttrek het. Die roete was nogal uitdagend, maar ek is baie bly oor my eerste plek,” vertel ‘n trotse Schultz, wat vier minute voor haar naaste teenstander geëindig het.
Volgens Schultz is sy tans besig om vir die 2020 Stap Wêreldkampioenskappe vir spanne voor te berei wat in Belarus gaan plaasvind.
“Ek sien hierdie plaaslike wedlope as ‘n goeie manier om myself te toets en voor te berei vir volgende jaar. 20km is ‘n olimpiese afstand en ‘n mens moet goed voorbereid wees met uithouvermoë en spoed sodat albei goed saamwerk,” vertel ‘n opgewonde Schultz.





