SportSport

One on One: Nico Loubser

Gordon Parsons het ook ‘n groot rol in my boulwerk vanjaar gespeel om dinge makliker te maak en ons spel op te skerp

Spanwerk en kwaliteit voorbereiding is iets wat die NWU-Pukke se top naatbouler, Nico Loubser, groot agting voor het.

Nie net het hierdie kenmerke hom persoonlik deur die afgelope wenseisoen in die Noordwes klubliga gelei nie, maar speel ook ‘n kernrol in die voortdurende sukses van die NWU Krieketklub.

Loubser (23) was een van vanjaar se top boulers deur die seisoen vir die eerste span en tesame met sy spanmaats, AJ Jacobs en Bantu Dandala was die NWU boul-aanval omtrent onstuitbaar. Volgens Loubser is spanwerk as ‘n boul-aanval baie belangrik omdat druk van altwee kante af moet kom.

“Die seisoen het al verlede jaar begin en ons het seker gemaak dat ons goed voorbereid is. Pieter Knoetze, Walter Fokkens en Conrad de Swardt het as afrigtingspan ons gereed gemaak vir die seisoen en die vrugte kan ons nou pluk. Gordon Parsons het ook ‘n groot rol in my boulwerk vanjaar gespeel om dinge makliker te maak en ons spel op te skerp,” vertel Loubser, wat ‘n derde jaar BA MBW student by die NWU is.

“Hierdie jaar het ons min gespeel met reën wat paar wedstryde afgestel het. Die lekkerste vir my bly om natuurlik op die veld te wees,” noem Loubser wat nou ongeveer die afgelope 2 jaar vir die NWU se eerste span uitdraf.

“Ek het eers vir Ibbies gespeel vir so twee jaar voordat ek opgetrek is. Kyk, ons hele klub en spanne oefen saam so ons almal werk na dieselfde doel toe. Die beteken ook dat daar baie kompetisie binne klubverband is. Ons hou mekaar op ons tone, en aangesien baie Puk spelers vir die NW Dragons ook speel, gee dit ook ander spelers geleenthede om vir die NWU-Puk se eerste span te speel,” verduidelik Loubser, wat met beste boulsyfers van 6/17 in 7 boulbeurte spog.

Krieket was nog altyd die nommer een sport vir Loubser wat al van jongs af speel en graag sy droom om professioneel krieket te speel eendag wil bewaarheid.

“Dit is die droom en ek sal graag daardie doelwit wil bereik. Vir nou sal ek my graad wil klaarmaak en ook aanhou om sendingswerk te doen. Ek het ‘n passie daarvoor en dit maak mens se oë oop oor dit wat eintlik belangrik in die lewe is. Om ‘n verskil in ander se lewens te maak bring baie vreugde,” noem hy.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button