SportSport

Rankin ry weer baan aan die brand

“My spesialis item, die flying 200m het ek gewen met meer as ‘n sekonde afstand oor my naaste teenstander.”

Die Potchefstroomse baanfietsry-sensasie, Riaan Rankin, het die afgelope seisoen weer sy stempel met vinnige tye en konsekwente vertonings afgedruk.

Volgens Rankin het hy in 2019 sy beste seisoen in sy loopbaan beleef toe hy in sy spesialis item (flying 200m) in die top-10 ranglys in Suid Afrika vir alle ouderdoms groepe geëindig het.

Hierdie jaar het ook uitstekend vir Rankin by die Noordelike Provinsies Ope Kampioenskappe begin waar hy een goue medalje en drie silwermedaljes behaal het.

“My spesialis item, die flying 200m het ek gewen met meer as ‘n sekonde afstand oor my naaste teenstander,” sê Rankin verder.

“In 2020 het ek vir die eerste keer in ‘n paar jaar weer in my eie veteraan ouderdomsgroep deelgeneem (45 – 49 jaar). Bo en behalwe my spesialis ‘sprint’ items, het ek ook aan ‘n paar langer items deelgeneem wat gemik is op die uithouvermoë klas van fietsryers, soos tipies padfietsryers wat ook op die baan deelneem. Dit is nie iets wat ek normaalweg doen nie, aangesien ek uitsluitlik op sprint items fokus,” meen Rankin.

Rankin het bo verwagting in die elimineringsresies ‘n silwer medalje behaal.

“Die een item was die elimineringsresies. Dit is ‘n baie taktiese item, waar die agterste ryer elke rondte geëlimineer word. Van al die uithouvermoë-items is dit die een waar ek die beste kans sou hê om op die podium te staan, aangesien sprintvermoë in die vroeër rondtes ‘n sterk rol speel. Die ryers naby aan voor beheer die spoed van die resies tot hulle eie voordeel.”

Hierdie baanfietsryer het toe ook silwer in die “scratch” resies behaal, wat ‘n 7 500 meter uithouvermoë-item is.

“Ek was gelukkig dat ons die item in ‘n groter groep gedoen het saam met ‘n ander ouderdomsgroep, ek kon dus bietjie ‘skuil’ in die sleur. Ek het wel hier die prys betaal vir die harde poging waaraan my bene nie gewoond is nie. Ek het later in een van my spesialis items, die Keirin, halfpad in die resies in onttrek weens spierkrampe,” noem Rankin van sy bittersoet ervaring.

Van die baan af is Rankin ook net so besig waar hy sedert 2020 by Noordwes fietsry as baanfietsry kommissaris betrokke is.

“Dit is ‘n strategiese posisie wat die provinsie se baanfietsry belange verteenwoordig op ons nasionale fietsrybane se werksgroepe, en om kommunikasie aan lede deur te gee.”

“Die doel is om baanfietsry te bemark, gebaseer op die feit dat dit vir alle tipe fietsryers voorsiening maak en dat die baan ‘n ontwikkelingsgrond vir ons land se beste ryers is.”

Rankin beklemtoon ook dat hy nie al sy sukses sonder die Here se hulp sou kon behaal het nie.

“Ek het werklik ‘n geseënde jaar beleef met alle dank aan my Skepper,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button