SportSport

NWU se pluimbalster reik na groot hoogtes

"Om ‘n mens se land te verteenwoordig is enige atleet se droom, en om die groen en goud te dra was sekerlik my grootste droom as klein dogtertjie."

Pluimbal loop diep in die are van die jong blondekop NWU-student, Deidré Jordaan, wat hierdie liefde vir die sport met groot prestasies aanhits.

Deidré kom uit ‘n familie wat ‘n groot passie vir pluimbal het, met haar pa en oupa wat die sport beoefen. Sy is ‘n gesoute pluimbalspeler wat al vir haar universiteit baie toekennings ingepalm het en ook vanjaar in Suid-Afrikaanse kleure naam by die Afrika-spele gemaak het.

In spanverband het SA ‘n vierde plek behaal, terwyl Deidré ook self ‘n goeie toernooi beleef het.

Haar pa was haar eerste afriger en sy het al op 10-jarige ouderdom aan verskeie nasionale toernooie deelgeneem.

“My familie se betrokkenheid het beteken dat ek as kleuter baie ure langs die pluimbalbaan deurgebring het as my pa liga gespeel het of self geoefen het.

“Soos enige klein kindjie wil mens mos maar saam speel en nie net stilsit nie, so dit was nie lank nadat ek kon loop dat ek ‘n pluimbalraket saamgesleep het nie.

“Die gawe ooms en tannies by die Olympians Pluimbalklub in Vanderbijlpark was altyd gereed om saam met my te slaan om my besig te hou terwyl my pa liga speel. En dis waar my liefde vir die sport begin het, nie net die speel daarvan nie maar die mense wat deel vorm van die sport,” noem Deidré, wat in Vereeniging grootgeword het en by Hoërskool Overvaal gematrikuleer het.

.

Beserings het wel byna haar loopbaan kortgeknip, maar sy het herstel en op universiteitsvlak behoorlik geblom tot waar sy vandag 373ste in die wêreld gekeur is.

“Ek het elke jaar, van die ouderdom van 10, die Vaaldriehoek by die jaarlikse junior nasionale kampioenskappe verteenwoordig. In 2012 het ek my anterior kruisligament geskeur tydens ‘n kwartfinaal-stryd by die nasionale o.19 kampioenskappe en moes ek rekonstruksie ondergaan en 12 maande rehabilitasie doen.

In 2013 het ek weer by die junior nasionale kampioenskappe gaan deelneem. Daarna as senior het ek jaarliks Melville Cup (ons senior nasionale toernooi) gespeel totdat ek in 2015 weer my kruisligament geskeur het. Ek was gereed om handdoek in te gooi met die sport, maar toe ek in 2016 aan die NWU begin studeer het, het ek weer begin social speel na my rehabilitasie. As gevolg van die kompeterende streek in my was dit nie lank totdat ek myself beskikaar gestel het vir USSA nie,” noem sy.

Met elke jaar by die USSA-kampioenskappe waar sy die NWU verteenwoordig het, het sy stelselmatig verbeter. In haar vierde jaar het sy algeheel eerste geëindig en brons in enkelspel sowel as goud in beide dubbels (saam met Carmen Haasbroek) en gemengde spel (saam met Ruan Snyman) verwerf.

“Ek was nommer een gegradeer na hierdie toernooi en dit het my motiveer om net nog harder te werk om nog verder te kan gaan. Om ‘n mens se land te verteenwoordig is enige atleet se droom, en om die groen en goud te dra was sekerlik my grootste droom as klein dogtertjie.

“Ons het in Kairo, Egipte gaan meeding teen Afrika se beste. Die mansspan het 3de geëindig en ons damesspan 4de.  Dit was ‘n groot eer, maar harde werk lê nog voor om weer top in Afrika te wees,” vertel sy.

Dié 25-jarige voel ook sterk dat haar pluimbalspel juis by die NWU gegroei het en dat haar tyd as student goed is vir haar pluimbal aspirasies.

“Die NWU het my regtig toegerus met alles wat ek nodig het om die Suid-Afrikaanse span te haal en daarvoor sal ek vir ewig dankbaar wees,” het sy genoem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button