Sakkie was ‘n diep en eerbare man wat met almal oor die weg gekom het. Hy was ook ‘n vriendelike, humoristiese mens. As jy hom wou kwaad hê, moes jy net iets teen die Blou-Bulle sê, omdat hy ‘n groot Blou-Bul ondersteuner was.”
Dit is hoe die huidige president van die Noordwes Krieket Skeidsregtersvereniging, Johan Louw, mnr. Sakkie Kotze (68) onthou. Mnr. Kotze, bekende krieketskeidsregter, is op 2 September oorlede.
Mnr. Kotze is op 21 April 1952 as Hendrik Conraad Kotze gebore en was vir die afgelope 20 jaar een van die bekendste skeidsregters in Noordwes. Met sy liefde vir die spel en sy medemenslikheid het hy talle vriende op en van die veld gehad.
Hy was vanaf die 2009/10 seisoen tot met sy aftrede in 2017/18 die president van die Noordwes Krieket Skeidsregtersvereniging en het ook die titel van erepresident ontvang.

Mnr. Kotze het in die 2000/01 seisoen by die Noordwes Krieket Skeidsregtersvereniging as nuweling aangesluit en sy vlak A (vlak 3) in 2007 behaal.
Hy was ‘n bekende in veral klubkrieket en geliefd onder spelers en mede-skeidsregters vir sy regverdigheid en goeie persoonlikheid.
Onder sy leiding is baie ander skeidsregters van die spel geleer en het hy die weg vir kwaliteit skeidsregting in die unie gebaan.
Volgens mnr. Louw was mnr. Kotze ‘n diep en eerbare man wat goed met almal oor die weg gekom het.
“Hy het altyd plek gehad vir enige mens. Ek kan toe ek een nag na 12:00 ‘n motorkrisis gehad het en binne minute was hy daar om te help. “Hy was ‘n unieke mens met ‘n oop deur in sy lewe en ‘n oop oor – jy kon hom enige tyd bel of stop om te praat. Almal het groot respek vir hom gehad,” het hy gesê.
Mnr. Lukie Luus was ook vir lank saam met mnr. Kotze op die veld as ‘n skeidsregterspaar en hy onthou ‘n klompie humoristiese oomblikke.
“Ons het ‘n skeidsregterstoernooi in Durban ‘n klompie jare gelede bygewoon en toe ‘n paar drankies gaan drink die een aand. Sakkie het ‘n rondte bestel en toe hoor hy die kroegman noem dat die vyf dubbels R17,45 gaan kos. Hy vra toe: “Is jy seker? Wel in daardie geval gaan ons onsself ryk drink vanaand.”
Dit is sulke herinneringe wat mnr. Luus tesame met vele gebeurtenisse op die veld ook onthou. “Party spelers het nie altyd van die beslissings gehou nie, maar Sakkie sou nie hulle nonsens vat nie. Hy het eenkeer sommer vir die speler gesê dat hy vir hom sal boul, toe ‘n beslissing bevraagteken word,” noem mnr. Luus. “Ek het Sakkie vir 20 jaar geken en hy sou my altyd op my verjaarsdag bel. Hy was regtig ‘n baie nice ou.”
* Mnr. Kotze se roudiens is Dinsdag, 8 September vanuit die Gereformeerde Kerk Die Bult gehou.




