SportSport

Swart op wit: Die rooi pet met die Curriebeker-rekord

In 1998 het Botes onder die afrigting van Burger van der Westhuizen sy skolerugby langs die Mooirivier gespeel. Nou 23 jaar later werk hy saam Van der Westhuizen om ‘n nuwe generasie spelers touwys te maak.

Drie kleure simboliseer die voormalige Sharks flank en Curriebeker-rekordhouer, Jacques Botes, met ‘n indrukwekkende 156 wedstryde op sy kerfstok.

Sy rooi skrumpet was hy ‘n alombekende gesig op Kings Park in Durban sowel as op talle rugbyvelde in die suidelike halfrond.  Die oud-Potchefstroom Gimnasium leerder het in 129 Curriebekerwedstryde en 115 Superrugby wedstryde met vurige passie en vasberandenheid die Sharks in swart en wit verteenwoordig.

Jacques Botes draf in sy laaste wedstryd op Kings Park saam met sy seun Juvan in 2014 uit. Foto: Verskaf

Vir Botes is die rooi skrumpet ‘n teken dat hy deur sy verlosser, Jesus Christus, se bloed bedek is.

“My vrou, Nadia, het een keer genoem dat sy nie my op die veld kon sien nie, en dit nadat ek ‘n goeie drie gedruk het. Sy het eers voorgestel dat ek ‘n pienk skrumpet moet dra sodat sy my kan uitken.

Ek het toe eerder op rooi besluit en van daar af het ek altyd rooi gedra. Dit hou ‘n spesiale betekenis as gelowige vir my en ek voel ek kan ‘n voorbeeld wees van die Here se genade,” vertel dié familieman wat tans in Parys saam met Nadia en hulle drie kinders, Anika (12), Juvan (10) en Kari (5) sedert 2016 woon.

Jacques Botes

Om ‘n rekord van 156 Curriebekerwedstryde (vir die Pumas en Sharks) op te stel is juis iets wat hy nie self sonder tonne geloof, hoop en liefde kon behaal nie. Dalk was dit bestem vir Botes wie se eerste foto as kind saam met ‘n rugbybal geneem is. Sy nege jaar verbintenis in ‘n wit en swart Sharks-trui is ook kenmerkend van sy lojaliteit vir die KwaZulu-Natalse span. Met Botes het ‘n mens geweet wat jy op die veld kry – swart op wit, duidelik en doelgerig in ‘n geseënde rugbyloopbaan waar hy drie Curriebekertitels in 2008, 2010 en 2013 kon inpalm.

Al het Botes nie sy laaste Curriebekerseisoen as ‘n wenner uitgetree nie is sy laaste wedstryd in Durban teen die Leeus steeds een van sy beste herinneringe.

“Daar was so lekker opbou voor die wedstryd. Mense het maskers met my gesig op gedra en daar was spesiale aandenkinge ook wat ek na die wedstryd gekry het.”

‘n Ander goeie herinnering is toe hy in sy laaste rugbywedstryd vir nog ‘n swart en wit span, die bekende Barbarians of Baa-Baas, teen Leicester Tigers ‘n drie kon druk en ook die skop self voor die pale verdoel het.

“Baie mense weet ek het twee linkervoete, maar darem was dit mooi voor die pale,” grap hy.

Jacques Botes druk ‘n drie vir die Sharks.
Foto: Barry Aldworth/Backpagepix

Sewe jaar na sy uitrede vind die voormalige Potchefstroom Gimnasium matrikulant en eerstespan rugbyspeler homself weer in Potchefstroom – dié keer as hulpafrigter vir die NWU-Puk 1 span saam met ‘n bekende gesig uit sy skooldae. In 1998 het Botes onder die afrigting van Burger van der Westhuizen sy skolerugby langs die Mooirivier gespeel.

Nou 23 jaar later werk hy saam Van der Westhuizen om ‘n nuwe generasie spelers touwys te maak.

“Ek help by die afbreekpunte en verdediging en dit is iets wat ek baie geniet. Om sekere tegnieke en kennis oor te dra en jong spelers te help om hulle potensiaal te bereik is opwindend,” noem hy.

Jacques Botes is tans terug in Potchefstroom waar hy die NWU Puk1 span as afrigter help. Foto: Wouter Pienaar.

“Elke speler kry geleenthede op verskillende tye. Dit belangrikste aspek wat ek vir jong spelers wil leer is om professioneel te bly, hard te werk en geestelik en emosioneel reg te wees om jou geleentheid te gebruik,” vertel hy verder.

Botes kyk terug met heimwee na sy skolerugbydae in Gimmies waar hy in talle wedstryde teen hulle bekende teenstander, Volkies, te staan gekom het.

“Dit was vir my altyd ‘n eer om Gimmies te kon veteenwoordig. Ek het van Graad 11 af eerste span gespeel. Die Classic Clash teen Volkies was altyd iets besonders, maar ons kon hulle nie in my tyd as speler wen nie,” onthou hy.

Na skool het Botes by Tukkies onder die voormalige Springbok en bekende Sharks hoofafrigter Dick Muir, gespeel en floreer. Dit is poëties dat hulle paaie weer by Botes se nuwe rugbyhoofstuk in Durban sou kruis.

“Dick is een van my groot mentors. Hy het my ondersteun en my laat glo in myself. Ek het daar besef dat ek profesioneel kan speel. Ek is daarna na die Pumas waar ek van my lekkerste rugby gespeel het,” vertel Botes, wie ook groot agting het vir Jimmy Wright, ‘n biokinetikus by die Sharks. 

Daar was groter planne vir Botes en hy het in 2005 sy eerste wedstryd vir die Sharks teen die Stormers in die destydse Super 12 gespeel het.

Jacques Botes geniet ‘n Curriebekeroorwinning in 2013. Foto: Verskaf.

“2005 was eintlik ‘n moeilike tyd by die Sharks omdat ons nie eers ‘n Curriebeker halfeindstryd kon haal nie. Dinge het wel verbeter en oor ‘n paar jaar was ons kompeterend en het die 2007 Super 14 finaal gehaal en ook in 2008 saam met John Plumtree die Curriebeker teen ‘n sterk Bulle span gewen,” onthou hy.

“Een van die lekkerste aspekte van die Sharks was die rustige kultuur van die veld af sowel as die professionalisme op die veld. Die kwaliteit spelers maak ‘n mens ‘n beter speler,” noem Botes.

In sy laaste paar jare by die Sharks het Botes al hoe nader gekom aan die Curriebekerrekord wat die Vrystaatsenter, Helgard Müller, gehou het.

In 2013 het Botes die rekord sy eie gemaak en danksy top kondisionering en ‘n tikkie geluk kon hy sy naam in die rekordboeke skryf.

“Ek sien myself as spanman wat by die Sharks gebly het en gelukkig is om soveel wedstryde te kon speel. My beserings was min en gewoonlik het ek genoeg tyd in die afseisoen gehad om te herstel. Ek kon oorsee gaan speel het, maar dit het nie uitgewerk nie en dit was bestem dat ek eerder in Durban moes aanbly. Ek sal my loopbaan vir niks verruil nie.”

Jacques Botes het in ‘n rekord 156 Curriebekerwedstrydeuitgedraf. Foto: Verskaf.

Botes se nalatenskap is die van ‘n lojale spanspeler wat in elk van sy 156 Curriebekerwedstryde bygedra het om die glorie van die tradisieryke kompetisie te beklemtoon.

Hy is dalk onderskat in sekere kringe en sonder ‘n Springboktoets op sy CV maar spyt het Botes nie.

Hy is die Sharks se lojale Meneer Curriebeker met 156 rooi caps agter sy naam.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button