Maties het hulle wurggreep op die NWU in die Varsitybeker behou toe hulle vanaand die Potchefstromers met 26-12 op die LC de Villiers-stadion in Pretoria geklop het.
Die NWU het teen halftyd met 6-5 voorgeloop na ‘n eerste 40 minute van harde rugby. ‘n Rooikaart vroeg in die tweede helfte was die doodskoot vir die NWU. Maties het toe ‘n begeesterde tweede helfte vertoning gelewer het wat een te veel was vir die NWU wat met 14 man net nie kon byhou nie.
Keagan Fortune het eerste vir die NWU op die telbord gesit met ‘n strafskop in die 11de minuut.
Maties het dadelik teruggeantwoord en die eerste drie van die wedstryd gedruk met die slot, Albert Liebenberg wat oorduik sy span met 5-3 voor te loop.
Keagan Fortune het 9 minute later die Potchefstromers weer die voorhand met ‘n strafskop gegee en ondanks die feit dat die NWU met 14 spelers na skrumskakel Riaan Genis se geelkaart moet speel, het hulle Maties gekeer om nog punte in die eerste helfte te behaal.
Sake het wel op die slegste manier moontlik vir die NWU in die tweede helfte begin toe Maties se kaptein, David Brits, op sy verjaarsdag gaan druk om sy span ‘n 10-5 voorsprong te gee.
Sout is in die wonde gevryf toe die NWU linkervleuel, Pienaar van Niekerk in die 44ste minuut ‘n rooikaart toegedien is in die aanloop tot die drie toe hy Maties se regtervleuel, Munier Hartzenberg, in die lug gespeel het. Die NWU het wel nie opgegee nie en twee strafskoppe kort na mekaar het sake 12-12 gelykop in die 50ste minuut gehou.
Een van Maties se plaasvervangers, George Lourens, het weer die maroen masjien laat voorloop en ‘n netjiese doelskop van Chris Schreuder, het die telling 19-12 in Maties se guns gelaat.
Die Maties agtsteman, Ben-Jason Dixon, het ‘n sewepunt drie gaan druk om die wedstryd in die 69ste minuut te beklink en die telling 26-12 te neem.
Die NWU speel hulle volgende wedstryd teen Wits op Vrydag, 30 April op Loftus Versveld om 19:00.
NWU: 12 (6)
Strafskoppe: Keagan Fortune (4)
Maties: 26 (5) Driee: Albert Liebenberg, David Brits, George Lourens, Ben-Jason Dixon
Doelskoppe: Chris Schreuder







