‘n Losskakel met senuwees van staal is iets wat sinoniem met Loftus Versfeld is en vanaand (Vrydag, 30 April) het ‘n nommer 10 die Noordwes Universiteit se Varsitybekerkanse met een ongelooflike skop aan die lewe gehou.
😮The buzzer to beater to win it!!! Keagan Fortune with a massive clutch kick after the full time whistle and just seconds left on the penalty countdown clock wins it for the @nwusports1 Eagles 🙌.
FNB NWU 22 – 20 FNB Wits#RugbyThatRocks brought to you by @FNBSA and @SteersSA pic.twitter.com/qn0ZosauNh
— Varsity Cup (@varsitycup) April 30, 2021
Die NWU se losskakel, Keagan Fortune, het vir ‘n finale kinkel in die kabel gesorg toe hy ‘n strafskop teen die kantlyn oortik met die laaste beweging van die wedstryd om die NWU met 22-20 teen Wits te laat seëvier.
Dit nadat Wits se heelagter, Christian Humpries sy span slegs 3 minute vroeër met ‘n strafskop amper die wedstryd vir die Johannesburgers met ‘n 20-19 telling laat wen het.

Toe Fortune sy skop oorklits en sy spanmaats en afrigtingspan hom oorrompel en juig, het dit amper gelyk of die NWU die Varsitybeker gewen het – hulle reaksie ‘n bewys van hoe krities hierdie oorwinning is wat uit die kloue van ‘n nederlaag ontsnap het. Met die telling 20-19 in Wits se guns het dit gelyk of die NWU se kanse op die halfeindrontes in die reën op Loftus Versveld verdrink word – dit was voor Fortune die laaste sê gehad het.
Dit was Fortune se vyfde en belangrikste strafskop in die wedstryd en verseker dat NWU afrigter, André Pretorius, en sy span rustiger kan terugkeer Potch toe met die wete dat hulle nog ‘n kans staan om die halfeindrondtes te haal. Fortune hou aan skitter vanjaar en het senuwees van staal gewys te midde van die die reën, druk en omstandighede van die strafskop.

Reën het sake deurgans moeilik gemaak met altwee spanne wat voorlangs probeer deurbreek het. Dit was nie verbasend dat dit ‘n stryd met die skopvoet ontaard nie, maar die naelbyt einde kon niemand voorspel nie.
Hierdie oorwinning op die nippertjie was vier goue punte werd met die NWU wat nou net een punt (19) agter Maties (20) op die punteleer is in die stryd vir halfeindrondte plekke.

Wits het hulle alles gegee en drie drieë gaan druk met Keagan Glade, Travis Gordon en Yanga Hlalu wat oorduik. Die NWU se driemasjien en haker, Gustav du Rand het die enigste drie vir sy span gedruk.
Die twee Keagans het eerste vir hulle onderskeie spanne punte in die eerste helfte aangeteken. Die NWU losskakel Keagan Fortune het met ‘n stafskop sy rekening oopgemaak, maar die NWU se voorsprong was van korte duur.
Wits se vaskopstut, Keagan Glade het die eerste drie van die wedstryd aangeteken toe hy na rolmaalbeweging oor is. Fortune het toe wel weer die NWU met ‘n stafskop oor halftyd laat voorloop met die telling 6-5 by rustyd. 
Wits se agtsteman, Travis Gordon het weer die Johannesburgers in die 49ste minuut die voorsprong gegee toe hy sy span se tweede drie druk om die telling na 10-6 te neem. Fortune se derde strafskop het die telling na 10-9 gebring. Kort daarna is die wedstryd op sy kop gekeer toe Wits se losskakel, Kurt Webster met ‘n rooikaart die die kantlyn gestuur is. Die NWU het daardie voordeel benut met Du Rand wat gaan druk.
Wits se buitesenter, Hlalu is in die 69ste minuut soos botter deur die NWU se verdediging en Wits is 17-16 voor. Fortune sit sy vierde strafskop deur die pale en met dit is die NWU weer met 19-17 voor.

Wits se veggees kon nie gedemp word nie en heelagter, Christian Humpries skop sy span voor met ‘n massiewe strafskop met slegs een minuut oor. Wits het sekerlik gedink dat hulle die wen in die sak het, maar Fortune het ‘n ander fortuin voorspel.
NWU: 22 (6)
Driee: Gustav du Rand
Strafskoppe: Keagan Fortune (5)
Doelskoppe: Fortune
Wits: 20 (5)
Driee: Keagan Glade, Travis Gordon, Yanga Hlalu
Doelskoppe: Christian Humphries
Strafskoppe: Christian Humphries




