SportSport

Potch Dorp se drie musketeers

Danie van der Merwe (skrumskakel), Luan Murray (losskakel) en Nico Maartens (vleuel) speel kookwater rugby vir Potch Dorp vanjaar.

By Potch Dorp Rugbyklub is daar vanjaar ‘n gees van vernuwing met ‘n paar top jong studente wat vir die eerste keer die smaak van klubrugy proe en elke week terugkeer vir meer.

Danie van der Merwe (skrumskakel), Luan Murray (losskakel) en Nico Maartens (vleuel) is albei verbonde aan Patria Manskoshuis by die NWU en het vanjaar besluit om klubrugby te speel, hoofsaaklik weens die feit dat daar geen koshuisrugby die jaar gespeel word nie.

Danie van der Merwe, Luan Murray en Nico Maartens is drie Patria Manskoshuis manne wat uitblink vir Potch Dorp Rugbyklub in die Neserliga.

Al drie is sover ‘n groot aanwins vir Potch Dorp met Luan wat die telbord met sy puik skopwerk pale toe laat beweeg en ook sy span op die aanval soos ‘n generaal lei. Danie is ‘n skrumskakel wat al drie drieë vir sy span in drie wedstryde vanjaar gedruk het.

Hy is puik op die aanval en moet mooi dopgehou word deur die opposisie. Nico speel ook kookwater rugby op die aanval sowel as verdediging en het al een drie ingepalm. Hierdie drie vriende deel meer as net ‘n koshuis en ‘n liefde vir rugby, hulle kuier ook gereeld saam.

Die tipe eenheid is juis een van die aspekte wat rugby nog lekkerder maak vir sulke talentvolle spelers. Danie en Nico is albei Namibiërs terwyl Luan van Hopetown in die Noordkaap afkomstig is. Luan en Nico studeer dieselfde graad (B.Com Landbouekonomie en risikobestuur) en deel ‘n liefde vir boer en rugby. Danie studeer Bsc. IT en het groot drome om eendag ook oorsee rugby te speel.

Danie van der Merwe op die aanval vir Potch Dorp.

“My liefde by rugby het al as klein seuntjie begin, toe ek met tjokker rugby begin het en van daar af het ek nog nooit terug gekyk nie,” vertel Danie wat in Windhoek Afrikaanse Privaatskool vanaf graad 1 tot matriek was.

“Die deel wat ek die meeste geniet van skrumskakel is dat ek die skakel tussen die voorspelers en die agterlyn is, en so ook die wedstryd kan beheer in terme van wat voor ons aangaan,” noem Danie verder.

Danie van der Merwe op pad na ‘n drie.

Nico kom van ‘n plattelandse privaatskool in Stampriet, Nambië genaamd Elnatan. Hy geniet die ruimte om in die agterlyn sy spoed aan die buitekant as vleuel te kan wys. “Die nuwe vriendskappe wat ‘n mens vorm maak dit spesiaal om vir Potch Dorp te kan speel,” voeg Nico by.

Nico Maartens probeer om een van sy opponente af te stamp.

Danie is die eens dat daar iets tradisieryk by Potch Dorp is. “Ek geniet seker die meeste die vibe wat daar is by die klub tussen die spelers. En wat vir my spesiaal is van die klub is dat dit een van die oudste klubs is wat nog bestaan.”

“Ek geniet die spelers en afrigters wat ek ontmoet het die meeste. Dis my eerste jaar wat ek klubrugby speel so dis n nuwe ondervinding, maar dis ‘n ondervinding wat ek vir niks sal verruil nie,” vertel Luan wat saam met Danie kamermaats was in hulle eerstejaar op Patria.

Luan, wat in 2018 by Hoërskool Hopetown gematrikuleer het, het nog altyd die nommer 10 trui gedra en ‘n mens kan dit sien met sy puik vertonings vir Potch Dorp vanjaar.

Luan Murray skop kantlyn toe.

“Op losskakel kry ek die geleentheid om die spel te beheer en ek geniet dit baie,” verduidelik hy. Al drie hierdie manne het ook uiteenlopende persoonlikhede met Danie wat graag daarvan hou om uit te gaan en nie sommer nee sal sê vir ‘n uitdaging nie.

Nico en Luan beskryf hulself as rustige en vriendelike mense.

“Ek is ‘n rustige boerseun van die Karoo met ‘n passie vir mense en diere,” voeg Luan by. Hulle drie deel ‘n liefde vir jag en sal graag ook in hulle aftyd hul gholfstokke swaai.

Nico Maartens, regtervleuel van Potch Dorp Rugbyklub. Foto: Wouter Pienaar

“Ek jag graag en geniet ook so nou en dan om bietjie golf te gaan speel,” vertel Luan, terwyl Danie noem dat hy Call of Duty speel as hy nie jag of visvang nie.

As die manne honger en dors raak kan ‘n mens verseker vir hulle ‘n stukkie vleis bedien. Nico geniet ‘n rump steak en ‘n Windhoek Draught, Luan verkies ‘n skaaptjop, braaibroodjie en ‘n Windhoek Draught, terwyl Danie ‘n klassieke hoender schnitzel met mash en ertjies geniet. Vir ‘n droë keel is sy opsie brandewyn.

Nes die aptyt vir ‘n lekker bord kos, is die aptyt vir rugby ook sterk met hierdie drie wat nog na hulle studies graag sal wil rugby speel. Nico wil graag vir Namibië in ‘n Wêreldbeker uitdraf, Danie wil graag oorsee speel, terwyl Luan ook professioneel sal wil rugby speel.

Een ding is verseker, waarokal die manne eendag rugby speel sal hulle altyd kan terugkyk na hul tyd by Potch Dorp – waar bande van broederskap vir ewig gesmee word.

Luan Murray op pad na sy drie teen Stilfontein.
Foto: Wouter Pienaar

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button