SportSport

Verster mik nou na o.20 Wêreld-atletiekkampioenskappe in Kenia

Harde werk en ingebore talent neem Gimmie-langasem na Kenia.

Die huidige SA kampioen in die 1500m, Danielle Verster, se fokus is loodreg op die o.20 Wêreld-atletiekkampioenskappe wat vanaf 17-22 Augustus in Nairobi, Kenia gaan plaasvind.

In ‘n uitmuntende eerste helfte van 2021 het sy haar eie persoonlike beste tye in die 800m, 1500m en 1 myl opgestel. As matrikulant aan Potchefstroom Gimnasium het sy almal in Noordwes trots gemaak toe sy die goud by die SA Senior Atletiekampioenskappe in Pretoria verwerf het.

Dit bly nog steeds vir Danielle ‘n hoogtepunt aangesien sy ook in dieselfde wedloop haar eie persoonlike beste tyd (4:20.54) in die 1500m opgestel het.

“Om goud te wen by die senior SA’s met ‘n persoonlike beste tyd in my matriekjaar, was ongelooflik. “Mens leer uit elke wedloop en my tweede plek by die junior SA’s en my vorige senior SA’s in 2019 waar ek in die finaal geval het, het my waardevolle lesse geleer.

Danielle Verster gaan Suid-Afrika by die o.20 Wêreld-atletiekkampioenskappe verteenwoordig. Foto: Verskaf

“My doel was om nie weer in ‘n groep te hardloop nie en eerder vinnig te begin met ‘n harde laaste rondte. “Ek het geen druk gehad nie en wou die wedloop net geniet. Die wen was ‘n bonus,” onthou sy.

Dit is nie verbasend dat Danielle op die atletiekbaan met haar lang asem uitblink nie, aangesien haar pa, Jean en ma, Alta, ook uitstekende atlete was. Haar pa rig haar ook af en met ‘n kombinasie van goeie gene, harde werk en ‘n borrelende passie pluk hierdie top atleet vanjaar die vrugte.

Haar talent was nog altyd groot, maar dit is asof sy in die afgelope atletiekseisoen in ‘n paar hoër ratte kon ingaan.

Hierdie talentvolle tiener bewys haar liefde en passie vir atletiek elke keer op die baan met konsekwente en skitterende prestasies. Dit was sodoende nie verbasend dat sy vir die o.20 Wêreld-atletiekkampioenskappe gekwalifiseer het nie. Nou gaan sy teen die beste in die wêreld in haar portuurgroep deelneem, wat beslis ‘n goeie uitdaging en groot leerkurwe sal wees.

Danielle beaam dat sy dankbaar is dat sy vir die span gekies is en dat enige iets kan gebeur indien sy vir die finaal kwalifiseer.

Danielle Verster, ‘n matrikulant aan Potchefstroom Gimnasium, is gereed om as SA kampioen in die 1500m haar skool en land by die o.20 Wêreld-atletiekkampioenskappe trots te maak. Foto: Wouter Pienaar

“Dit is elke jaar my doelwit om my tye te verbeter en ek het geweet as ek dit vanjaar weer kan doen, sal ek die kwalifiseringstyd behaal. Die kompetisie gaan baie sterk wees, veral met die top atlete van die ander Afrika lande. Ek sal graag in die finaal wil wees, want dan het jy ‘n gelyke kans soos enige atleet in die wedloop,” sê Danielle, wat tans die derde gekeurde 1500m vroue atleet in SA is.

Nie elke atleet het die geleentheid om ‘n uitstekende afrigter as ouer te hê nie en Danielle is dankbaar dat sy by haar pa se oefengroep kan inskakel.

“Ek is bevoorreg om deur my pa afgerig te word en ons het ‘n baie spesiale oefengroep. Hy het meestal senior atlete, maar hulle laat ons juniors deel van die groep voel. Ons ondersteun en motiveer mekaar en ek leer baie by hulle. By oefening is ek een van my pa se atlete, maar na oefening kan ons die sessie by die huis bespreek.”

Haar voorbereiding was die afgelope tyd nie ideaal nie, aangesien sy ‘n besering opgedoen het. Sy sien wel die silwer randjie raak met die dat sy meer tyd aan alternatiewe versterkings- en kondisioneringsoefeninge kon spandeer.

“Sielkundig was dit ‘n goeie breek en dit het my gemotiveer vir die jaar vorentoe,” meen hierdie atleet wat haar motivering ook vind by positiewe mense om haar wat dieselfde belangstelling en beginsels as sy het.

“Dit motiveer my ook om te sien dat wêreldklasatlete, ook die wat in Potch kom oefen, ook maar net gewone mense is wat ‘n passie vir die sport het. Dit verg jare se harde werk, opofferings, selfdissipline en ook om terugslae en teleurstellings te oorkom. Daar is geen kortpad na sukses nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button