SportSport

Jong skeidsregter maak geskiedenis in Neserliga-finaal

In die toekoms wil Hanru graag die nasionale paneel haal en dan na die Elite-paneel van skeidsregters in Suid-Afrika opskuif.

Op 22-jarige ouderdom het die Potchefstroomse skeidsregter, Hanru van Rooyen, geskiedenis gemaak as die jongste skeidsregter wat ‘n Neserliga-finaal blaas.

Dié eindstryd tussen Potch Dorp en Ikageng Rugby Development Club op 19 Junie vanjaar was ‘n oomblik wat die talentvolle skeidsregter en voormalige leerder van die Hoër Volkskool Potchefstroom nie sal vergeet nie, en wys hoe Hanru se rugbyloopbaan ‘n mooi kringloop gevorm het.

Hanru van Rooyen (22) het na agt jaar as skeidsregter, vanjaar sy eerste Neserliga-finaal geblaas. Foto: Wouter Pienaar

Agt jaar gelede het Hanru se skeidsregtersloopbaan by Potch Dorp begin nadat hy vroeër as jong seun talle klubwedstryde van die kantlyn af gekyk het terwyl sy pa, Henry, Potch Dorp afgerig het.

“Dit was een van die lekkerste en mees opwindende eindstryde wat ek geblaas het omdat dit ‘n eindstryd vol hardlooprugby was,” noem Hanru.

“Ek het langs die veld by klubrugby grootgeword, so vir my is dit spesiaal om na agt jaar van skeidsregting die man in die middel te kon wees tydens die Neserfinaal. Dit was ongelooflik toe ek die oproep kry om die Neser-finaal te kon blaas en my naam in die geskiedenisboeke te kon skryf,” vertel hy opgewonde oor hierdie groot oomblik.

Hanru is tans op SA Rugby se amateurpaneel van skeidsregters en het die afgelope paar jaar groot indruk gemaak tydens top nasionale weke soos die o.16 Grant Khomo en o.18 Akademieweek.

Hy was ook al langs die kantlyn as assistent skeidsregter by die Varsitybeker betrokke. Sy doelwit-gebaseerde benadering tot skeidsregting gee vir hom die geleentheid om sy spel te evalueer en aan sekere aspekte te werk. Volgens Hanru leer hy altyd iets na elke wedstryd wat hy in sy spreekwoordelike rugsak kan bêre vir die volgende 80 minute in die middel.

Gimmies se sewes-toernooi wat op Saterdag, 8 September plaasgevind het, was in die bekwame hande van dié Luiperds skeidsregters op die veld. Van links na regs is Francois van Staden, Rudi Stoop, Hanru van Rooyen, Vusi Nzondo, Johan Steyn, Ruan de Ridder en Steyn Visser (voor).
Gimmies se sewes-toernooi wat op Saterdag, 8 September 2018 plaasgevind het, was in die bekwame hande van dié Luiperds skeidsregters op die veld. Van links na regs is Francois van Staden, Rudi Stoop, Hanru van Rooyen, Vusi Nzondo, Johan Steyn, Ruan de Ridder en Steyn Visser (voor). Foto: Wouter Pienaar

“Elke liewe wedstryd leer ek iets saam met die twee vlagmanne. Daar is verskillende dinge wat ‘n mens leer en saam met jou in jou rugsak sit vir die volgende wedstryd.

Daar is verskillende aspekte in die wedstryd waarna ek moet kyk. Ek kies gewoonlik drie aspekte waarna ek wil kyk en dan evalueer ek myself rakende daardie drie doelwitte. Dit kan byvoorbeeld die spasie, skrum en losgemaal wees en dan sal ek regmerke langs die doelwitte sit as ek geslaag het met bykomende kommentaar. As ek nie slaag nie, sal ek na die video-materiaal kyk en deurgaan om te kyk waar ek kan verbeter,” verduidelik hy sy modus operandi.

Hanru in beheer van die eindstryd tussen Potch Dorp en Ikageng op 19 Junie. Hierdie rugbyliefhebber is die jongste skeidsregter in die geskiedenis wat die eindstryd blaas. Foto: Verskaf

Hanru was op skool een van die opwindendste losskakels in sy ouderdomsgroep en is tweede op die punteleer vir meeste punte (70) wat in een Cravenweek aangeteken is. Steeds lê sy groot passie by skeidsregting en om rugby daardeur voluit te geniet.

Hanru van Rooyen sal op losskakel 'n sleutelrol vir Volkskool speel.
Hanru van Rooyen tydens sy skolerugbydae.

“Wat skeidsregting lekker maak is dat jy heeltyd by ‘n verskeidenheid tipes rugby van skool tot professionele vlak betrokke kan wees. Die lekkerste aspekte is om te sien hoe rugbyspelers ontwikkel, om by ‘n verskeidenheid mense te leer en ook te kan reis en verskillende kulture en lande te ervaar. Om eerstehands met iemand soos Jaco Peyper (SA skeidsregter) te werk gee ‘n mens ‘n kans om by hulle te leer en toe te pas in jou skeidsregting en die lewe.” Hierdie huidige NWU student wat sy honneurs in besigheidsbestuur doen, noem ook dat fiksheid een van die uitdagendste aspekte van skeidsregting is.

“Die oefeninge is baie uitdagend. Jy moet gereeld kan hardloop en jy moet so fiks wees sodat jy jou beste kan gee vir 80 minute op die veld,” beaam hy.

In die toekoms wil Hanru graag die nasionale paneel haal en dan na die Elite-paneel van skeidsregters in Suid-Afrika opskuif.

“Ek steun op die Here se tydsberekening wanneer dit die regte tyd is vir my om op te beweeg,” noem hy. Hierdie 22-jarige deel graag die rol wat sy pa Henry, in sy loopbaan van die begin af tot nou toe, steeds speel.

Hanru van Rooyen saam met sy pa Henry na afloop van die 2021 Neserliga-finaal

“Die rol wat my pa speel is ongelooflik groot. Hy is altyd die eerste persoon wat my kalm hou voor ‘n wedstryd en tydens halftyd sal hy vir my sê waarop ek kan bou en verbeter. Aan die einde van die wedstryd sal hy my opbou, al dink ek dat ek ‘n paar foute gemaak het.

“Die opbouende kritiek laat my altyd beter voel. Hy ondersteun my ook altyd langs die veld en dit sal nie vervul kan word deur enige iemand anders nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button