SportSport

Ervare senter skrop nes by die Luiperds

“Ek geniet dit baie by die Luiperds. Ons het ‘n lekker groep manne en die gees is baie hoog."

Een van die nuwe gesigte in die Luiperds se 2021 Curriebeker Eersteligagroep is ‘n geharde en talentvolle senter wat van die Oos Rand na die Wilde Weste Potchefstroom sy rugbyloopbaan voortsit.

Andries Truter, ook bekend as Dries tussen sy vriende en spanmaats, is ‘n 30-jarige senter wat vanjaar sy ervaring en terriër-mentaliteit na die voorgrond bring in ‘n opwindende Luiperds span, wat tans bo-aan die punteleer is.

In ‘n jong span is Truter ‘n spreekwoordelike hardebaard wat bewys dat ervaring nie gekoop kan word nie – die man weet hoe om alles op die veld te gee en ook so nou en dan in die ander span se vel in te klim.

Andries Truter slaan ‘n gaping vir die Luiperds. Foto: Mario van de Wall.

Truter het voorheen naam gemaak by die Valke waar hy die unie in 49 wedstryde verteenwoordig het. Nou het hy truie verruil nadat hy in Augustus 2020 by die Luiperds aangesluit het. Soos die gesegde sê is verandering vir Truter so goed soos ‘n vakansie.

“Ek geniet dit baie by die Luiperds. Ons het ‘n lekker groep manne en die gees is baie hoog. Manne gee om vir mekaar en dit is hoekom dit so lekker is om deel te wees van die Luiperds. Dit is vir my ‘n groot voorreg om vir die Luiperds te speel onder André Pretoruis se leiding,” noem Truter wat al sedert 9-jarige ouderdom ‘n groot passie vir rugby het.

Andries Truter vorm ‘n sterk fondasie in die agterlyn vir die Luiperds. Foto: Mario van de Wall

“Rugby is ‘n ongelooflike sport waaruit mens soveel herinneringe skep. Die broederskap en band tussen spelers bly vir altyd daar en natuurlik ‘n biertjie na die tyd in die kleedkamer. Rugby het my deursettingsvermoë en selfdissipline geleer en om altyd hard te werk. Dit leer mens om altyd jou beste te gee en dat jou beste goed genoeg is, wen of verloor,” beaam Truter.

In sy tyd af geniet hierdie deurwinterde speler dit om Enduro motorfietse te ry, te braai, te jag en saam met vriende te kuier. Buite die lyne van die rugbyveld is hy ook ‘n verkoopsverteenwoordiger vir FDC Projects.

Na skool het hy by die Westelike Provinsie begin, waar hy ook die Maties in die Varsitybeker verteenwoordig het. Daarna is hy na die Valke en het as kaptein die manne in rooi gelei. Hy is ook in 2019 as agterspeler van die jaar aangewys. Volgens Truter is sy rugbyhoogtepunt om vir die Malaysia Valke teen die Western Force in Perth by HBF Park te kon speel. Dit was tydens die Rapid Rugbyreeks in 2020, wat weens Covid-19 kortgeknip is.

Asof dit bestem is, het die Luiperds ‘n maand gelede teen die Valke, Truter se ou span, verloor. In ‘n sin was dit ‘n nodige leerskool vir Truter en die Luiperds, wat nou wenrugby speel.

“Ons het baie geleer in die wedstryd wat ons laat glip het teen die Valke, maar mens leer baie meer uit ’n verloor as ’n wen. Ons werk hard om die kompetisie te wen en dit sal vir ons ‘n baie groot mylpaal wees na alles wat ons opgeoffer en ingesit het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button