Die Luiperds het hulle stempel voor die Curriebeker Eerste Divisie halfeindstryde afgedruk met ‘n fantastiese 56-13 oorwinning teen Grens in die laaste groepwedstryd op Olënpark.
Die manne van Potch het agt drieë teenoor Grens se twee drieë gedruk en Grens nie kans gegee om enigsins die wedstryd te beheer nie.
Foto’s: Mario van de Wall

Grens het ook die kanse wat hulle gehad het verbrou danky swak hantering en besluitneming wat hulle in die hakskeen gebyt het.

Die Luiperds se losskakel, Danrich Visagie het ook nie ‘n enkele skop pale toe gemis nie en was die generaal op die veld wat die Luiperds se troepe mooi op koers gestuur het. Die Luiperds het van die staanspoor af met ‘n blitzkrieg van drieë die voortou geneem en nooit teruggekyk nie.
Met ‘n 21-0 voorsprong na 15 minute het die Luiperds bewys dat hulle gereed en gefokus is. Daniels het die eerste drie gaan druk en skrumskakel, Riaan Genis die tweede een met ‘n puik individuele poging toe hy ‘n gaping raakslaan.
Knap verdediging het aan linkervleuel, Charl Pretorius ook ‘n drie besorg nadat ‘n Grens speler die bal in kontak verloor het. Pretorius het die bal opgeraap en in die hoek oorgeduik.

Grens se enigste geleenthede het gebeur danksy die Luiperds se foute met ‘n verbroude lynstaan van haker, Gustav du Rand wat Grens se vaskopstut, Masonwabe Ngcem, ‘n geskenk in die vorm van ‘n drie gegee het.
Die loskopstut, Ntsi Daka het ook oorgeduik vir Grens in die eerste helfte om die telling na 21-10 te neem. ‘n Strafdoel van Grens se linkervleuel, Litha Nkula het die telling na 21-13 vernou, maar dit is waar Grens se terugvegpoging gestop het. Net voor halftyd druk Daniels sy tweede drie na ‘n skitterende beweging waar voorspelers en agerspelers sentraal betrokke was. Met die Luiperds 28-13 voor met die blaas van die halfeindfluitjie, was die manne in groen en rooi in ‘n goeie posisie om die wen in die tweede helfte te verseker.
Dit is presies wat gebeur het, toe die Luiperds vuur en vlam, twee drieë in die eerste 10 minute van die tweede helfte druk, eers flank, Heinz Bertram na goeie werk van Tjaart Benade en toe haker Gustav du Rand wat sy naam op die telkaart plaas.
‘n Strafdrie teen die einde van die wedstryd het die Luiperds se krag in die skrums beklemtoon. Die kersie op die koek was ‘n laaste demonstrasie van krag in ‘n rolmaalbeweging toe plaasvervanger haker, Ruan “Rocky” Groenwald die Luiperds se agtste drie druk.
Die Luiperds stel nou hulle visier op die half-eindstryde komende week met ‘n kragmeting teen Boland.



