Komende Vrydag, 13 Augustus, gaan daar nog ‘n hoofstuk in die Luiperds en Griffons se kleurryke geskiedenis geskryf word met die Curriebeker Eersteliga trofee op die spel.
Hierdie twee top unies gaan op Olënpark om die trofee, wat ‘n geruime tyd reeds uit albei spanne se trofeekas is, meeding.
Die Luiperds se laaste sege was in 2015 tuis, terwyl die Griffons in 2017 tuis, laas die beker gelig het. Die twee beste spanne in vanjaar se kompetisie verdien albei hulle plek in die eindstryd – die vraag is watter span se aptyt op dié dag groter sal wees vir sukses.
Foto’s: Mario van de Wall

Die Luiperds het hulle plek in dié eindstryd bespreek met ‘n uitstekende 52-29 oorwinning teen Boland verlede Vrydag op Olënpark, terwyl die Griffons tydens hulle 38-31 sege teen die Valke in Welkom moes sweet. Op papier het albei spanne sterkpunte, met die Luiperds wat ‘n kortkop voor is weens die feit dat hulle tuis in bekende toestande speel.

Die Luiperds het ook die sielkundige motivering in hulle agterkop dat hulle vroeër in die seisoen juis die Griffons op Olënpark kon klop. Die Potchefstromers se krag lê in hulle losvoorspelers wat hierdie toernooi in top vorm is. André Fouché, Heinz Bertram en Siya Mdaka lewer uitstaande spel, terwyl die plaasvervangers, Edmund Rheeder en HP Swart op 6, 7 en 8 diepte bied.
Nog ‘n sterk skakel tot dusver is die onderkaptein en losskakel, Danrich “Pike” Visagie wat met sy skopvoet en aanvallende spel baie geleenthede skep. Die agterlyn is ook propvol talent met senters, Dries Truter en Tjaart Benade, sowel as vleuels, Eugene Hare en Lincoln Daniels, sowel as Duren Hoffman wat goed as ‘n eenheid saamwerk.

Die Luiperds sal wel alles moet insit teen ‘n Griffons-span wat nooit tou opgooi nie – vir die Griffons sal niks lekkerder wees om die Luiperds in Potch te klop nie. Griffons-spelers om dop te hou sluit in die ervare senter en kaptein, Duan Pretorius, die losskakel, Aphiwe Stemele en agtsteman, Sokuphumla Xakalashe.
Die wedstryd skop om 16:30 af en sal op Supersport te sien wees.
Luiperds span teen Griffons:
1. Komape Moloto
2. Robey Leibrandt
3. Ruan Swiegers
4. Malembe Mpofu
5. Vincent Maruping
6. Siya Mdaka
7. Heinz Bertram
8. Andre Fouche
9. Riaan Genis
10. Danrich Visagie
11. Eugene hare
12. Tjaart Benade
13. Dries Truter
14. Lincoln Daniels
15. Duren Hoffman
Plaasvervangers
16. Gustav du Rand
17. Ruben Du Plessis
18. Jp Mans
19. Hp Swart
20. Shirwin Cupido
21. Edmund Rheeder
22. Johan Retief
23. Keagan Fortune



