SportSport

NWU se Paralimpiese ster oorwin struikelblokke om plek by Spele te bespreek

In samewerking het Liezel Gouws en haar afrigter Shaun Bownes dit reggekry om so te oefen en voor te berei op beide psigiese en fisiese vlak sodat sy in die beste vorm van haar lewe is in die aanloop tot die Paralimpiese Spele.

Dit was nie altyd die maklikste roete wat die NWU se Paralimpiese atleet, Liezel Gouws (23) hierdie afgelope jaar moes aanpak nie, maar deur haar deursettingsvermoë en wil om haar talente uit te leef het sy ‘n plek in die 2020 Tokio Paralimpiese Spele bespreek.

Gouws het tydens haar voorbereiding Covid-19 opgedoen en moes eers weer behoorlik op die been kom voordat sy weer voluit kon oefen. Dit was een struikelblok in haar pad na Tokio.

‘n Ander moeilike aspek was dat sy nie in haar gekose middelafstand items (800m en 1500m) kon deelneem nie, weens die Spele wat nie daardie items aanbied nie. Gouws moes toe saam haar nuwe afrigter, Shaun Bownes, op die korter afstande naamlik 200m en 400m in die T37 klas fokus.

Dit was nogal ‘n kopskuif, maar in samewerking het Gouws en Bownes dit reggekry om so te oefen en voor te berei op beide psigiese en fisiese vlak sodat sy in die beste vorm van haar lewe is in die aanloop tot die Paralimpiese Spele.

“Dit voel rerig nog onwerklik om Tokio toe te gaan. Dit was ‘n baie lang pad tot hier, maar die voorreg en eer is net so groot soos die eerste keer (Rio 2016)! Dis altyd so groot voorreg om Suid Afrikaanse klere te dra teen die wêreld se beste, en dis ‘n gevoel wat ek nooit sal kan beskryf nie,” noem Gouws opgewonde.

Sy gaan in die T37 klas deelneem, vir serebraal gestremde atlete aan die een kant.

Haar afrigter vir die afgelope jaar, Shaun Bownes, noem dat Gouws uit en uit bewys het dat sy struikelblokke kan oorkom om haar drome waar te maak.

Liezel Gouws gaan Suid-Afrika by die 2020 Tokyo Paralimpiese Spele vanaf 24 Augustus tot 5 September verteenwoordig. Foto’s: Andries Kruger

“Dit was werklik uitdagend in die inperking en met Covid-19 aangesien ons nie so baie kon oefen en voorberei soos gewoonlik nie. Ons moes ook haar oefenplan aanpas aangesien sy nou meer op spoed en krag as kortafstandatleet moes fokus. Dit is ‘n lekker uitdaging en sy het beslis haar deel gedoen en vreeslik hard gewerk. Haar tye het keer op keer verbeter en ek glo sy staan ‘n kans om top 4 in die finaal van die 400m te behaal,” noem Bownes.

Liezel Gouws gaan SA by die 2020 Paralimpiese Spele in Tokio, Japan in die 200m en 400m T37-items verteenwoordig. Foto: Andries Kruger

 Gouws noem ook dat sy graag haar eie beste tye wil verbeter en dit as die eerste doelwit sien voordat sy dadelik aan medaljes dink.

“Soos altyd, wil ek net my beste doen en dit wat ek jare voor geoefen het, met so baie passie gaan uitleef! Natuurlik is dit enige atleet se droom om op die podium te staan, so ek is opgewonde om te sien wat vir my beplan is! Maar my grootste doelwit is om my persoonlike beste tye te verbeter, want dan weet ek dat ek die sterkste en vinnigste is wat ek nooit ooit was,” noem hierdie vierde jaar Farmasie-student. 

In die aanloop tot die Spele het haar afrigter ook die afgelope week vir Gouws spesifieke scenarios geskep om haar gereed te maak vir die druk by ‘n Paralimpiese Spele.

“Ek het laat sy ‘n uitdunrondte hardloop sowel as ‘n finaal sodat sy voorbereid kan wees vir hoe sy elke wedloop moet aanpak,” verduidelik Bownes, wat noem dat dit ‘n groot voorreg is om Gouws te kan afrig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button