Die Noordwes o.15A en o.19A Super Skoleligas is besig om in ‘n drieperd-resies te verander met Potchefstroom Gimnasium, Hoër Volkskool Potchefstroom en Hoërskool Rustenburg wat in die eerste twee rondtes goeie krieket gespeel het.
Komende Sondag, 5 September is daar ‘n groot stryd op die kaarte met Gimmies en Volkies se eerste en o.15 spanne wat mekaar om 10:00 die stryd aansê.
Die eerste spanne kom op die Gimmie-Oval te staan, terwyl die o.15 spanne mekaar op Mooivallei sal aanvat. Gimmies en Volkies se eerste spanne het albei ‘n paar top spelers wat in so ‘n groot tweestryd tussen die buurskole wil naam maak. Aan Gimmies se kant is die aanvangskolwer, Martin van Onselen, sowel as die middelorde kolwers, Johan Mahne en Martin Bullock, op goeie vorm.
Gimmies o.15 teen Lichtenburg: Foto’s – Wouter Pienaar
Gimmies sal op hulle kolwers steun om goeie lopies aan te teken om vir hulle boulers ‘n kans teen Volkies se kolwers te gee. Volkies beskik oor ‘n paar top linkerhand kolwers, soos Ludwig Schuld en Waldo Kemp wat vanjaar die lopies mooi insamel.
Op die boulfront is Volkies se Stephan Fourie en Corné Nel ook giftig en kan probleme vir Gimmies se kolwers veroorsaak. Dit is nou sowat twee jaar sedert hierdie twee skole mekaar in ‘n ligawedstryd aangevat het en dit sal interessant wees om te sien hoe albei skole die druk op dié dag sal hanteer.
Die afgelope naweek het Volkies juis hulle wedstryd teen Rustenburg verloor, terwyl Gimmies se o.15A span ‘n 198 lopie oorwinning teen Hoërskool Lichtenburg aangeteken het. Gimmies se o.15A span teken ‘n pragtige 296/8 aan met Tommie Botha wat ‘n fantastiese 120 slaan. Juandré Barends slaan ook ‘n vinnige 60 (44) vir sy span. Lichtenburg se boulers het geen antwoord vir Gimmies op hulle tuisveld nie en word vir 98 almal uitgeboender.
Barends blink ook uit met die bal en neem 3/13. Hoër Volkskool Potchefstroom het teen Hoërskool Rustenburg gespeel, maar die 1ste span en o.15’s moes albei egter die onderspit teen ‘n vasberade Rustenburg delf. Rustenburg kolf eerste en teken 256 aan.
Volkies verloor met 31 lopies ten spyte van ‘n 57 van Ludwig Schuld en 48 van Waldo Kemp. Onder die boulers vaar Corné Nel met 3/32 en Stephan Fourie met 3/42 die beste. Volkies o.15’s kolf eerste en word uitgeboul vir slegs 113 lopies. JM Visser teken 31 aan.
Rustenburg moet hard werk vir die oorwinning en verloor 7 paaltjies voordat hulle die wenlopies aanteken. Dian Liebenberg 3/29 en Stefan Peyper 2/11 vaar die beste met die bal.














