
Die room van die Luiperds Rugbyunie is hierdie afgelope week by die Elgro River Lodge op Woensdag, 22 September met gesogte toekennings na ‘n uitstekende seisoen beloon.

Die Luiperds het vanjaar die Curriebeker Eerstedivisie-titel vir die eerste keer sedert 2015 verower en dit is geen verrassing dat vanjaar se wenners werklik hulle allerbeste op die veld gegee het nie.
Foto’s: Mario van de Wall
Die Luiperds senter, Andries Truter, het die groot prys as Luiperds se Speler van die Jaar ontvang. Hy volg in die voetspore van manne soos Robert Kruger, Jeandre Rudolph en Walt Steenkamp. Danrich “Pike” Visagie, die Luiperds se kookwater losskakel en onder-kaptein is as die Agterspeler van die Jaar sowel as die Spelers se speler van die Jaar aangewys.

Die Voorspeler van die Jaar is die opwindende flank, André Fouché. Die heelagter, Duren Hoffman, is as die Nuweling van die Jaar aangewys met flank, Heinz Bertram wat die Opkomende Speler van die Jaar titel vat.












