SportSport

PCC rolbal juniors maak skoonskip by enkelstoernooi

By die dames verower Lezandri Hildebrand (PCC) goud, Lourien Leeuwner (PCC) silwer en Hope Offor (KBC) die brons.

Die Noordwes Rolbal Assosiasie het die afgelope Saterdag, 19 Februarie vir die eerste keer in die geskiedenis ‘n junior mans- en dames enkels-toernooi aangebied. Die junior kategorie sluit alle spelers onder die ouderdom van 30 jaar in.

Foto’s: Verskaf

Hierdie is ‘n nuwe fenomeen wat in Noordwes begin posvat. Ander groter provinsies soos Gauteng en die Westelike Provinsie kon reeds in vroeër jare die platform skep vir jongmense se deelname aan dié sport op ‘n meer professionele vlak.

Dit is maar onlangs eers dat meer bekendstelling vir die plaaslike jongmense bewerk kon word. Die toernooi is by Potchefstroom Buiteklub gehou. Die tentoonstelling van die talent op hierdie dag weerspreek die neiging dat rolbal gesien word as ‘oumens albasters’. Juniors van so jonk as 10 en 13 jaar het deelgeneem en hul man gestaan teen veel ouer teenstanders.

So sou PCC se juniors hul staal wys en neem vyf van die sewe plekke op die podium in. Thinus van Zyl (PCC) verower goud teen David Kapindo (KBC), terwyl Janlu Myburg en Johandré Britz (ook beide van PCC) elk met ‘n brons wegstap. By die dames verower Lezandri Hildebrand (PCC) goud, Lourien Leeuwner (PCC) silwer en Hope Offor (KBC) die brons.

Nog ‘n eerste was die uitnodiging van Lourien Leeuwner en Lezandri Hildebrand om aan die SA junior meesterskampioenskappe te kon deelneem wat vanaf 5 tot 7 Februarie gehou is.

Die meisies het uitstekend gevaar teen veel meer ervare spelers en kon sodoende Noordwes juniors op die kaart plaas.

Ook vir die eerste keer in die geskiedenis kon Noordwes twee spanne inskryf vir die nasionale junior toernooi wat vanaf 28 Maart tot 1 April deur Rolbal Suid-Afrika in Bloemfontein aangebied word. Op hierdie vlak spog PCC met sewe van die 10 spelers uit hul geledere.

Die juniors word alle sterkte toegewens vir hul deelname in die opkomende toernooi. Dit is inspirerend om te sien hoeveel jonges deesdae saam met hul ouers en grootouers die sport opneem en dit skep groot hoop vir die toekoms van rolbal in ons provinsie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button