SportSport

Nuwe generasie skitter by SA kampioenskappe in Potch

Op die baan en veld het ACNW ook 16 medaljes verower met 7 goud, 5 silwer en vier brons om die vyfde algehele plek te behaal.

Die ASA o.16, o.18 en o.20 atletiekkampioenskappe wat by die NWU Kenneth McArthur atletiekstadion vanaf 31 Maart – 2 April in Potchefstroom plaasgevind het sal onthou word vir uitstekende atletiek ten spyte van taai weersomstandighede. Op die eerste dag het die son die tartanbaan laat kook en op die laaste dag het konstante reën vir ‘n nat uitdaging gesorg.

Tog het die nuwe generasie jong SA talent bewys dat die toekoms van atletiek gesond is. Hulle het hul beste voet voorgesit, rekords laat tuimel en medaljes ingepalm op die groot verhoog.

Atletiek Gauteng-Noord het boaan die tabel geëindig by die driedaagse nasionale kampioenskappe, en het ‘n totaal van 116 medaljes (46 goues, 43 silwer en 27 brons) oor al drie ouderdomsgroepe ingepalm. Sentraal Gauteng Atletiek het tweede geëindig met 53 medaljes (17 goud, 15 silwer en 21 brons), en Atletiek Vrystaat het derde geëindig met ‘n totaal van 37 medaljes (13 goud, 8 silwer en 16 brons).

Die grootste ster van die kampioenskappe was sonder twyfel Atletiek Gauteng-Noord se Viwe Jingqi wat die SA rekords in die u.18 dogters 100m en 200m-items gebreek het. Hierdie blits het ‘n verstommende tyd van 11.22 sekondes in die 100m behaal en 22.03 in die 200m.

Sy is ook sodoende nou die vinnigste in die wêreld in haar ouderdomsgroep. Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW) het die byeenkoms aangebied en hulle kan ‘n groot applous kry vir die organisering van hierdie atletiekskouspel. Op die baan en veld het ACNW ook 16 medaljes verower met 7 goud, 5 silwer en vier brons om die vyfde algehele plek te behaal.

Danielle Verster (dogters o.20 800m en 1500m) was een van die groot sterre vir ACNW met twee goue medaljes voor haar tuisskare. Die voormalige Gimmie was in puik vorm en het veral in die 800m met ‘n fantastiese laaste 100m bewys hoekom sy die een is om in hierdie twee items te klop. Haar gesig het getuig van deursettingsvermoë en fokus op die doel voor oë.

“Ek is tevrede met die oorwinning en om dit voor my tuisskare te doen. Ek het die 1500m en 800m goue medaljes tuis gewen op ‘n baan waaraan ek gewoond is. Ek wil my pa en afrigter Jean Verster bedank,” het Verster genoem. Verster het die 800m in 2:09.27 voltooi en die is oor die eindstreep in die 1500m in 04:26.60.

Ander uitblinkers is ACNW sluit in Emel Keyser wat ‘n nuwe SA rekord in die seuns o.20 100m hekkies opgestel het in ‘n goue tyd van 13.49 sekondes. Die stappers, Janise Nell (10km stap) en Marizel Meintjies (5km stap) behaal ook goue medaljes.

Amoné le Roux kry goud in die driesprong met ‘n 11.67 meter afstand terwyl Karmen Fouché ook haar klas wys met ‘n gemaklike eerste plek in die dogters o.20 verspring. Haar sprong van 6.24 meter is 15cm verder as haar naaste teenstander. Sandri van Rooyen (silwer – dogters 0.18 110m hekkies), Riandi Boshoff (silwer – dogters o.20 diskus), Lee-Ann Grobbelaar (silwer – dogters o.20 spiesgooi) en Jamoré Olivier (brons – dogters o.16 gewigstoot) is Potch Gimnasium atlete wat ook in hulle ACNW-kleure puik presteer het.

Uitslae:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button