
Toe die SA kampioenstoeier, Tanki Tau (26), sy eerste smakie van stoei op 12-jarige ouderdom proe, was die skoot hoog deur.
‘n Liefde vir stoei het begin groei en nou is hy al ses keer SA kampioen in sy gewigsklas (57 kilogram). Vir Tanki gaan dit nie oor om net titels in te samel nie, maar ook om vir die nuwe generasie daardie passie vir stoei te leer.
Tanki bied klasse aan vir kinders van alle ouderdomme in ‘n stoeilokaal op sy werkgewer, Hennie Pretorius, se kleinhoewe. In die oggend van 7:00 tot 12:00 werk hy in Pretorius se tuin vir ‘n ekstra inkomste en rig dan kinders af in die middag vir ‘n tweede inkomste.
Pretorius het vir Tanki gehelp om die saal in te rig en te bou, juis vir sy stoeidoeleindes.

Na elke sessie maak hy dan die goedtoegeruste saal ook self skoon. Hy bly ook dan oor op die kleinhoewe. “Dit voel glad nie soos werk nie, omdat ek so ‘n groot liefde vir stoei het. In die aande na die klasse kyk ek juis stoeivideo’s om idees te kry vir die volgende dag se klas,” noem hy met ‘n glimlag.
‘n Mens kan sien hoe baie hierdie stoeier dit geniet om terug te gee aan die jongklomp in die manier hoe sy oë blink wanneer hy oor sy afrigting uitbrei.

“Opwarming is die belangrikste en daarna sal ons verskillende stoei speletjies doen, afhangend van die ouderdom. Die belangrikste is om nie op jou rug te lê nie – dis die eerste basiese reël. Die jongste kind wat ek afrig is drie jaar oud en die oudste 19,” noem Tanki, wat tans ses stoeiers het wat hy afrig.
Elke sessie duur vir ongeveer 45 minute en volgens Tanki is sy leerlinge altyd moeg na ‘n sessie. “Dit is vir my lekker om die jong kinders te help en hulle net aan iets anders bloot te stel as wat hulle daagliks mee te doen het,” meen hy.
Dit is ook meerdoelig dat hy in die tuin werk, aangesien hy lekker aktief bly met die daaglikse take in die erf. Verder plant en groei hy ook sy eie groente wat boontjies, spinasie en ander groen groentes insluit.
“Groente is my gunsteling kos. Dit is juis hoekom ek die groentetuin begin het. As ‘n stoeier moet ‘n mens gesond eet en by jou gewig hou, so om daardie rede drink ek ook baie water.”
Tanki is in Klerksdorp gebore en het daar grootgeword. Sy ouers bly ook nog in Klerksdorp en hy behoort aan die Klerksdorp Stoeiklub. Tanki was in 2020 derde by die Afrika Kampioenskappe en gaan nou weer in Mei aan dieselfde kampioenskappe deelneem met die hoop om op sy brons te verbeter.
“My groot droom is om na die Olimpiese Spele toe te gaan en vir Suid-Afrika daar te verteenwoordig. “Ek moet dan eers by die Afrika Kampioenskappe presteer en dan ook vir die Statebondspele kwalifiseer,” vertel Tanki, wat deur sy mentor, Jannie Taljaard, afgerig word.
“Ek is mal oor afrigting. Dit maak my trots om te sien hoe my leerlinge verbeter en die sport ook geniet. Ek is versot op stoei – dit het my dissipline geleer en van verkeerde goed af weggehou. As ek vir te lank weg is van die stoeimat af, dan verlang ek daarna.”
Vir meer inligting oor sy stoeilesse kan Tanki by 071 823 0899 gekontak word.