Die Luiperds se kanse om volgende jaar in die Premier afdeling van die Curriebeker te speel het ‘n ligte hou gevat nadat hulle teen die SWD met twee punte verloor het.
Die eindtelling was 17 – 15.
Die Luiperds het vroeg in die wedstryd genoeg kanse in hulle teenstanders se 22 gehad, maar kon nie kanse na punte oorskakel nie. Die lynstane het op tye in die eerste helfte gesukkel, waarop die Arende gekapitaliseer het. Die Arende het goeie vaardighede gewys om hulle eerste drie in die 17de minuut te gaan druk.
Die Luiperds het kort voor halftyd vir ‘n drie oorgedryf. Rustyd was die telling 7 – 5.
SWD het vroeg in die tweede helfte weer onder pale gaan kuier toe Mitchel Carstens, sy tweede drie vir die dag gaan druk het. Die Arende het gewys dat hulle baie min spasie nodig het om met die bal te speel.
Die Luiperds het in die laaste 30 minute van die tweede helfte ‘n herlewing gehad nadat hulle 17 – 5 agter was.
Die Noordwesters se rolmaalbewegings was hulle sterkste wapen. Al drie hulle drieë is deur die dryf gedruk. Alhoewel die Luiperds drie drieë teen die SWD se twee kon druk het hulle nie met een doelskop geslaag nie. Dit was ‘n moeilike dag met die voet vir, Danrich Visagie. Gustav Erlank wat van die Varsitybeker span by die Luiperds aangesluit het, het sommer dadelik ‘n verskil gemaak met ‘n drie. robey Leibrandt en Tian van der Merwe het die ander twee drieë gedruk.
Die Luiperds se volgende wedstryd is ‘n tuis wedstryd teen Boland. As die Luiperds in ide Premier afdeling wil speel sal hulle, al hulle Suid Afrikaanse teenstanders moet klop. Die Luiperds is tans 6de op die punteleer met vyf punte uit twee wedstryde. Die Valke is tans heel bo op die leer, met 15 punte uit drie wedstryde.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-rugby-hub/