Mari-Louise van Zyl, een van SA en Potchefstroom Gimnasium se blinkste tennissterre, hou aan om met haar talent op die tennisbaan te woeker.
Mari-Louise het saam met haar SA o.16 spanmaats haar land teen 8 ander Suidelike Afrikalande te staan gekom in ‘n kwalifiserende toernooi vir die Afrika Junior Spankampioenskappe.
![]()
Sy het teen Namibië, Angola, Zimbabwe, Madagaskar en Botswana enkel en dubbelswedstryde gespeel en al haar wedstryde gewen.
Die eindstryd van die dogters o.16 enkelspel teen Madagaskar wen Mari-Louise met 6-4 7-5.
“Dit is ‘n baie groot eer om Suid-Afrika te kan verteenwoordig. Daar word van jou verwag om goed te doen en dit sit druk op ‘n mens, maar dit is deel van die spel,” noem Mari-Louise wat tans die nommer 1 gekeurde speler op o.16-vlak in Suid-Afrika is.
Die volgende toernooi waaraan Mari-Louise gaan deelneem is die AJTC (Afrika Junior Span Kampioenskappe) waarvoor hulle in Zimbabwe gekwalifiseer het.
“Die toernooi gaan einde Junie in Egipte plaasvind en dit is die volgende groot toernooi waarin ek gaan deelneem,” noem Mari-Louise wat tans die 375ste plek in die wêreld op o.18-vlak is.



