Die NWU-spiesgooier, Jo-Ané van Dyk, het op Donderdag, 2 Junie ‘n nuwe persoonlike beste afstand by ‘n byeenkoms in Oostenryk behaal toe sy haar spies 61.61 meter ver laat trek het.
Sy het hierdie uitstekende afstand in Eisenstadt behaal en sodoende haar vorige beste afstand van 61.19 meter verbygesteek wat sy in 2021 in Kladno in die Tsjeggiese Republiek opgestel het.

Van Dyk is in top vorm en gooi meeste van die tyd oor die 60 meter of naby hierdie merk in haar afgelope vyf Europese atletiekbyeenkomste.

Sy behaal ‘n eerste plek in die Tsjeggiese Republiek (Turnov) op 24 Mei met ‘n gooi van 55.18 meter. Vier dae later in Letland (Tasi) behaal sy ‘n tweede plek met ‘n 59.62 meter afstand. Daarna kom die rekord in Oostenryk waar sy ‘n silwermedalje inpalm. Sy rond die week af met twee derde plekke in Spanje (Andujar, 58.36 meter) en die Tseggiese Republiek (Praag, 59.24 meter).




