Die Potchefstroomse tandarts, dr. Pieter Henning, het dié maand oorsee naam gemaak met skitterende uitslae vir Suid-Afrika in die 2022 Tweekamp Wêreldkampioenskappe in Târgu Mures, Roemenië.
Henning, wat lid is van die Suid-Afrikaanse span van 20 atlete, het in die Cross-Duathlon (‘n kombinasie van bergfietsry en veldwedloop) en die gewone tweekamp (fietsry en hardloop) items deelgeneem.
Hy het op 6 Junie ‘n briljante goue medalje in sy ouderdomsgroep (70-74) in die Cross-Duathlon behaal in ‘n tyd van 04:28:40 en ‘n welverdiende 8ste plek in die tweekamp-item vier dae later.
“Ek is dankbaar dat ek op my ouderdom nog kan oefen en deelneem. Dit is ‘n groot voorreg om nie met beserings te sit nie, wat nog te praat van rugoperasies en knievervangings. Ek dank die Here elke dag vir hierdie voorreg,” vertel Henning.
Die Cross Duathlon het bestaan uit 2 x 3,5 km drafsessies, ‘n 25 km bergfiets en nog ‘n 3,5 km drafroete om die moordende item af te sluit.
Wat die moeilikheidsgraad opstoot is die baie klimme (300 m tydens die 10 km drafgedeelte) en 850 m tydens die 25 km bergfietsafdeling.
Wat Henning se oorwinning in hierdie kompetisie nog beter en meer merkwaardig maak, is dat hy ook tegniese foute moes oorkom om goud te behaal.

“In die helfte van die tweede rondte se bergfietsdeel kry ek ‘n pap wiel. Ek het nie noodtoerusting en onderdele gepak nie, toe draf ek vir amper 2 km met my fiets tot by ‘n pomp. Ek is skaars daar weg toe breek ‘n speek.
Ek het die spreek toe soos ‘n boontjierank om die naaste ander speek gevleg. Daar weer weggetrek en natuurlik gebid dat die Here moet help, en soos altyd het Hy voorsien, met die wiel wat tot die einde gehou het,” vertel hy.

Volgens hom was daar ook ‘n afsnypunt wat baie deelnemers nie kon behaal nie.
Maandag, 10 Junie het Henning aan sy twee tweekamp-kompetisies deelgeneem wat uit 10 km draf, 40 km fietsry en weer 5 km draf bestaan het.

“Hierdie kompetisie was op ‘n motor renbaan (Transilvania Motor Ring Renbaan) 25 km buite die stad, Targu Mures. Daar het ek in my groep 70-74 toe 8ste gekom. Die Maandag se “off road” was maar nog in die bene, maar ek is gelukkig en baie dankbaar.”
Henning het nog een groot multisportkompetisie wat voorlê met die Wêreld Swem Driekampkampioenskappe wat vanaf 23-26 Junie plaasvind.
“My item is Saterdag, 25 Junie en ek neem weer in my ouderdomsgroep (70-74) deel,” noem hy opgewonde.




