Meeste mense is nie lus om in lang rye te staan om hulle voertuiglisensies te hernu nie. Dit is eerstens tydrowend en tweedens weens verskeie faktore soos ouderdom en siektes, kan mense soms nie vir ure staan nie.
Dit is waar mense soos Nicolene Gouws inkom.
Nicolene is ‘n Potchefstromer wat lisensies namens motoriste uitneem wat dit nie self kan doen nie. Sy is een van ‘n handjievol persone in die dorp wat hierdie diens nou al vir die afgelope paar jaar lewer.
Volgens Nicolene moet ‘n mens baie tyd, geduld en vriendelikheid hê om die diens so doeltreffend as moontlik te verrig.
“Die lewe is so ‘n gejaag dat mense nie meer self in die rye kan gaan staan nie. Dit is waarom ek daar is, om dit vir die publiek te vergemaklik. Vir my is die beste deel om die las van my kliënte se skouers af te haal deur ‘n diens te lewer waarvoor hulle nie self kans sien nie,” noem sy.
Vir Nicolene is hierdie diens wat sy lewer haar vaste werk, alhoewel sy ook ander dinge doen wat ‘n inkomste genereer. Sodoende het sy juis tyd om bitter vroeg al in die rye te gaan staan.
“Dit was vir my baie moeilik in die begin toe ek 23:30 in die aand in die koue al in die rye gaan sit het sodat ek vroeg genoeg kon klaarkry. Ek is sedert 2020 al daarmee besig, net nadat die lockdown dit toegelaat het dat besighede weer oopmaak,” vertel sy.
Sy noem ook dat daar beslis ‘n groter aanvraag is vir hierdie diens in Potchefstroom as ‘n paar jaar gelede.
“Aan die begin was ons drie of vier waarvan ek geweet het. Vandag is daar ‘n groot toename in hierdie werk.”
As ‘n mens weer in ‘n lang ry wag en wonder hoe party mense heel voor in die ry staan – dan is hierdie die antwoord: Dit is mense met diensbaarheid in hulle hart.




