SportSport

Ditsem Dorp! Afrigters gee lof vir spangees in Neserliga-oorwinning

"Elke speler in die klub se bydrae vanjaar het tot ons wen Saterdag gelei." - hoofafrigter, Joe Smith.

Die vreugdevure het Saterdag, 25 Junie op Potchefstroom Dorp Rugbyklub se tuisveld weer hoog gebrand toe die eerstespan die Neserligabeker vir die tweede agtereenvolgende jaar gelig het.

Potch Dorp se eerstespan kaptein, Llewellyn Ellis, hou die Neserbeker omhoog terwyl sy spanmaats om hom feesvier. Foto: Mario van de Wall

Potch Dorp het hulle gedugte teenstanders, Klerksdorp Rugbyklub, met 37-8 in die eindstryd verslaan en gewys waarom hulle die verdedigende kampioene was.
Dit was ‘n soete sege vir hierdie trop Potch Dorp leeus wat behoorlik met hulle aanvallende spel vir Klerksdorp geen kans gegee het nie. Menige keer moes Klerksdorp se verdedigers in die agterkant van ‘n maroentrui vaskyk.


Potch Dorp het ses drieë in totaal aangeteken met Harreed Cloete wat ‘n driekuns behaal. Byron Coetzee, Ian de Beer en kaptein, Llewellyn Ellis, druk die ander drieë. Frank-Lee Jackson verdoel twee drieë en sit ‘n strafskop tussen die pale deur.

Harreed Cloete druk een van sy drie drieë in die Neserligafinaal teen Klerksdorp. Foto: Mario van de Wall

Linkervleuel, Cloete, was die speler van die wedstryd vir sy spoed en afronding. Die oopkantflank, Marnus Venter en heelagter, Ellis, het ook uitgeblink.
Potch Dorp Rugbyklub se hoofafrigter, Joe Smith, was in die wolke na sy span se tweede agtereenvolgende sege.

Hy bly net hier! Joe Smith (hoofafrigter), Leslie Jackson (hulpafrigter) en Ruan Vermaak (spanbestuurder) vier die 2022 Neserligatitel. Foto: Verskaf

“Ons is as ‘n span baie bly. Ons het die eerste dag vanjaar wat ons bymekaar gekom het ‘n doel uiteengesit vir die jaar dat ons bo-aan die punteleer wil eindig en dan die groot prys (Neserliga) wen,” sê hy.

“Ek dink die groot ding wat tot ons wen gelei het, was dat elke speler vanjaar ingekoop het.
Elke speler was bereid om tyd op te offer en hulle lywe week in en week uit op die spel te sit. Elke speler in die klub se bydrae vanjaar het tot ons wen Saterdag gelei,” brei Smith uit.

Potchefstroom Dorp Rugbyklub se eerstespan hulpafrigter, Leslie Jackson, noem ook dat die sleutel tot Potch Dorp se sukses in hulle spangees en professionele houding lê.

“Al die ervare spelers het vanjaar goed saam met die nuwe ouens saamgesmelt. Hulle het mekaar ook verantwoordbaar gehou en vir mekaar gespeel. As iemand ‘n oefening mis, sou hy verskoning by die spelers gevra het. Die spelers het mekaar op die oefenveld gevind en daardie spanwerk het tot by die wedstryde deurgeslaan,” verduidelik Jackson.

Volgens hom voel hy geëerd om die titel vir die tweede agtereenvolgende jaar saam met Potch Dorp te kan verower.

“Klerksdorp het ‘n baie goeie span en ons oorwinning wys dat ons op die regte pad is en dat al die harde werk afbetaal. Ons span kon ook vinnig aanpas en dit het hierdie seisoen in ons guns getel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button