SportSport

Een hou op ‘n slag: Die lewe van ‘n jong tennisspeler

Reuben het in Januarie vanjaar by sy afrigter, Riaan Venter, aangesluit en volgens hom is daar ‘n groot verbetering in sy spel.

Tennis is ‘n sport waar daar van jongs af daagliks reeds ‘n belangrike vorm van dissipline en toewyding moet plaasvind om groot hoogtes te bereik.

Op die tennisbaan speel jy nie net teen jou opponent aan die ander kant van die net nie, maar ook in ‘n mate teen jouself en jou eie gedagtes. Die helfte van die oorlog gaan oor die mentaliteit van ‘n speler.

Die 15-jarige Potchefstroomse tennisspeler, Reuben de Klerk, is een van hierdie jong spelers wat sy lewe daagliks aan tennis wy by die Riaan Venter Tennisakademie verbonde aan die NWU.
Reuben het in Januarie vanjaar by sy afrigter, Riaan Venter, aangesluit en volgens hom is daar ‘n groot verbetering in sy spel.

Reuben de Klerk in aksie op die tennisbaan. Foto: Verskaf

“Persoonlik voel ek dat ek meer gefokus is op my tennis. Ons is ‘n klomp mense in die akademie wat ook goeie tennisspelers is. Almal motiveer mekaar en dit maak dit makliker as om die tennispad alleen te loop,” noem hy.
Reuben is nie jou algemene 15-jarige skoolkind wat die daaglikse roetine van skool toe gaan, buitemuurse aktiwiteite en huiswerk volg nie. In die oggende en in die middae oefen hy tennis, doen gym en fisioterapiesessies en kry ook raad en advies van sportsielkundiges.

“In die oggende oefen hy vanaf 08:00 tot 10:00 en werk aan spesifieke vaardighede. In die middae van 15:00 tot 17:00 speel ons punte teen mekaar. Op Maandae, Woensdae en Vrydae het ons gym-oefeninge en ook twee keer per week fiksheids-oefeninge en ook sessies wat op herstel fokus.”

Volgens Reuben, wat deur Head met al sy tennistoerusting geborg word, is daar omtrent so drie ure per dag waar hy op sy skoolwerk kan fokus.

“Dit is nogal ‘n aanpassing. Ek het besluit om balans te skep sodat ek nie net op tennis fokus nie. Ek het byvoorbeeld ook vir Volkies krieket gespeel om deel van ‘n spanomgewing te wees. ‘n Mens kort iets om jou kop ook weg van tennis te hou om af te skakel.”

Reuben de Klerk is ‘n plaaslike Potchefstromer wat by die Riaan Venter Tennisakademie sy merk maak. Foto: Wouter Pienaar

Reuben speel al tennis vandat hy sowat ses jaar oud was en kom uit ‘n gesin waar balsporte groot op die agenda was.

“Ons het saam met my pa krieket op die gras gespeel. My ma is ook ‘n netbalafrigter. Ek is toe blootgestel aan tennis en het daarin begin uitblink. Ek het op ‘n stadium net so drie ure per week geoefen en van hierdie jaar af is dit nou 6-7 ure per dag.”

Oor naweke neem hy deel aan toernooie en het die afgelope maand bewys dat die gefokusde aanslag sy tennis reeds op ‘n hoër vlak neem. In ‘n ITF J5 toernooi in Pretoria het Reuben ‘n tweede plek behaal, nadat hy eers deur die kwalifiserende rondtes moes beweeg. Na hierdie vertoning kon hy ook sy doelwit bereik om vir ‘n toernooi in Zimbabwe te kwalifiseer, danksy die punte wat hy in die toernooi vir sy oorwinnings ingesamel het.
Vir hierdie blondekop-speler was dit ‘n teken dat hy in die regte rigting beweeg.

“Ek het teen die nommer een gekeurde speler in die toernooi en 600ste in die wêreld (o.18), Joseph Townes, in die eerste rondte gespeel en hom toe geklop. As ek hom nie geklop het nie, kon ek nie genoeg punte kry vir my doelwit om Zimbabwe toe te gaan nie. Ek het net besluit dat dit nou of nooit is en my alles gegee,” vertel Reuben.

Reuben het hierdie momentum toe verder geneem en net drie stelle in die toernooi verloor, wat merkwaardig is.
“Ek het geleer dat enige iemand op ‘n dag geklop kan word. Almal maak foute, so ‘n mens speel op hulle foute,” noem hy.

Reuben noem dat hy hierdie jaar as platform gebruik om homself gereed te maak om volgende jaar van sy beste tennis te kan speel.

“Ek probeer nie op uitslae fokus nie, maar ek wil voor elke wedstryd dit wat ek in ‘n oefening regkry, ook in ‘n wedstryd regkry. Die o.16 jaar is die belangrike jaar omdat daar beurse geskenk kan word en mense jou kan raaksien.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button