Maak of breek vir spanne in NWU-koshuisliga
Vir spanne soos Heimat en Villagers wat nog nie een ligawedstryd gewen het nie, is vanaand maak of breek.

Vir van die spanne in vanaand (10 Augustus) se Rugby koshuisliga is dit maak of breek.
Heimat speel teen Overs, terwyl Veritas en Villagers mekaar die stryd aansê. Caput is op sy beurt teen De Wilgers in aksie.
Vir spanne soos Heimat en Villagers wat nog nie een ligawedstryd gewen het nie, is vanaand maak of breek.
Volgens Stefan van Vuuren, hoofafrigter van Veritas, is dit vir hulle ook baie belangrik om ‘n wen te kry vanaand.
“Na ons verloor teen Caput is dit vrek belangrik dat ons vanaand wen,” het hy gesê.
Ivan van der Sandt, hoofafrigter van Heimat het by navraag gesê, die span gaan hulle beste doen. “Die seisoen kom na ‘n einde toe so dit raak nou ‘n moet wen scenario. Ons het hard gewerk, ons darem nie so baie seer lywe soos die vorige wedstryd nie. Ek dink almal sukkel maar met dit. Twee wedstryde in ‘n week is maar hard,” het Van Der Sandt gesê.
Volgens Gerald Sutton, hoofafrigter van Overs, maak so alles of niks situasie enige span gevaarlik.
“Ons het twee goeie sessies met die ouens gehad die week. Elke speler het meer duidelikheid oor wat verwag word,” het hy gesê.
Caput het ‘n teiken op hulle rug na hulle tot dusver nie ‘n wedstryd verloor het nie. De Wilgers sal graag hulle staal teen die Rooikatte wil bewys.
“Ons verwag ‘n harde stryd. Na laas week se wedstryde is die manne honger vir ‘n goeie uitslag. Dissipline en die basiese gaan die groot faktore in die uitslag van vanaand wees,” het Lourens Janse van Rensburg, hoofafrigter van De Wilgers gesê.
Na ‘n moeilike week, met twee groot wedstryde teen Patria en Veritas agter die rug en nog ‘n moeilike week wat voorlê, het Henry Stewart, hoofafrigter van Caput, gesê dat dit nou die tyd is vir spelers om diep te delf en karakter te wys.
Patria gaan hulleself teen die die NWU se o/19 A span toets, volgens Garann Kriek, hoofafrigter van Patria, voorspel hy ‘n fisiese stryd. “Ons gaan ook tot die einde toe moet speel teen die jonger fikser manne. Jean Tiedt se verdediging gaan ook moeilik wees om af te breek,” het Kriek gesê.



