“Die ‘s’ is silent,” verduidelik die pas 20-jarige Anais. “Jy spreek dit uit soos ‘A-ny’.”
Om mense reg te help met die uitspraak van haar naam is tweede natuur. “Ek is al gewoond daaraan,” lag sy.
Dit is egter op die skaakbord waar dié oud-leerling van Potchefstroom Gimnasium en B.Com Toerismebestuur-student aan die Noordwes-Universiteit haar meeste praatwerk doen.
Kyk, hier is nou vir jou ‘n skaakfundi as jy al ooit een gesien het.

Sy was nog nie eers 16 nie toe sy Suid-Afrika by die Statebondspele in Indië verteenwoordig het en van 11 tot 17 September in Antwerpen, België maak sy deel uit van die Universiteite Sport Suid-Afrika-span wat aan die Wêreld Universiteite Kampioenskappe gaan deelneem.
“Ek sien baie uit daarna. In Indië het ek soveel vriende gemaak met wie ek steeds in kontak is. Ek is seker dit gaan in België ook so wees,” sê sy.
Met terminologie soos die Grünfeld-verdediging, die Koning-Indiese-aanval en genoeg tongknopers om jou vir langer as lank stom te maak, kan skaak ‘n ontoeganklike en selfs intimiderende vooruitsig vir voornemende spelers wees.
Tog het skaak gedurende die pandemie ‘n oplewing in belangstelling beleef met die uitreik van Netflix se gewilde reeks, The Queen’s Gambit, wat fokus op die fiktiewe skaakwonderkind, Beth Harmon, se opgang in die skaakwêreld. “Almal het my gekontak en wou leer hoe om skaak te speel,” vertel sy.
Nie so maklik nie, nê?
“Ek glo mens moet ‘n natuurlike talent hê om skaak te speel en ek dink ek het daardie talent. Jy moet ‘n aanvoeling vir die spel hê en jy moet strategies kan dink.
Die ontginning van hierdie talent is wel ‘n twispunt.
“Volgens my sussie het ek teen haar skaak gespeel en verloor. Ek hou niks van verloor nie, toe begin ek ekstra hard werk, maar dit is haar storie. Ek het skaak op laerskool begin speel omdat dit ‘cool’ was. Ek het soveel vriende ontmoet. Skaakspelers is opregte mense. Wen of verloor, mens stap saam uit na ‘n spel en gesels. Ek het ‘n liefde vir die sport en ‘n liefde vir mense wat die sport speel.”

Haar skaakhelde is die enigmatiese en uiters eksentrieke Amerikaner, Bobby Fischer, asook die Hongaarse baanbreker, Judit Polgár, wat wyd gereken word as die voorste vrouespeler van alle tye.
“Bobby Fischer was bietjie mal. Hy het skuiwe gemaak wat almal bevraagteken het en spelers onkant gevang het. Ek hou ook daarvan om so te speel.
“Ek dink nie ek het al een keer dieselfde spel gespeel nie. Elke teenstander speel anders. Sommige is meer aggressief, terwyl ander daarvan hou om meer terug te hou. Dit is wat dit ‘cool’ maak.”
Sy beskryf haar eie styl as meer konserwatief, hoewel sy ‘n aanvallende styl inspan as sy met swart speel. Dan het sy ook ‘n affiniteit vir haar lopers, oftewel biskoppe, met wie sy al groot skade aangerig het.
Maak gou jou oë toe en verbeel jouself jy is ‘n skaakspeler. Wat sien jy? Dit is daardie beeld, daardie wanpersepsie, wat Anais dwars in die krop steek.
“Ek is ‘n ekstrovert, en ek kry dit gereeld dat mense vir my verbaas vra: ‘Speel jy rêrig skaak?’ Almal neem aan jy moet aan sekere kriteria voldoen of in ‘n sekere boksie pas om ‘n skaakspeler te wees. My vriendinne ervaar dieselfde. Ons sit nie net en lees boek nie.”
Nee, want skaak verg deursettingsvermoë en vernuf. Dit is oorlog op 64 blokke met 32 stukke waar net die mees uitgeslape generaal sal wen. En dít, is cool.




