
Eenduisend-agthonderd deelnemers en beamptes. Ses-en-negentig spanne. Een Noordwes-Universiteit wat die grootste Spar Netbalkampioenskappe ooit aanbied.
Die Fanie du Toit Sportterrein het behoorlik van 8 tot 13 Augustus uit sy nate met netbaltalent gebars en die NWU het weer eens bewys dat daar nie ‘n toernooi bo sy vuurmaakplek is nie.
Die top spanne het in die Senior A-afdeling meegeding, sake is in die o.21-kampioenskappe uitgespook en menige spanne het in verskeie subdivisies deelgeneem.
“Die kampioenskappe het uitstekend verloop en die spelers het dit baie geniet. Hulle het geloop en sing soos wat hulle na die bane toe gestap het. Dit was iets om te sien. Ons het ook baie positiewe terugvoer van voormalige nasionale spelers gekry wat nou as kommentators dien,” sê Heléne Botha, vrouesportbestuurder van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en president van Noordwes Netbal.
Die skouspelagtige openingseremonie het die pas vir die toernooi aangegee, met Potchefstroom Gimnasium se eie Amira Willighagen wat verrigtinge op ‘n hoë noot afgeskop het. Dié 18-jarige sopraan, wat in Nijmegen, Nederland gebore is, het in 2013 hoofopskrifte gehaal toe sy op 9-jarige ouderdom die talentsoekkompetisie, Holland’s Got Talent, gewen het.
Met elke stadion op die Fanie du Toit se hoofrugbyveld volgepak en ‘n enorme Suid-Afrikaanse landsvlag wat die veld volgemaak het, het Amira die gehoor met haar weergawe van die volkslied in vervoering gehad. Sy het die openingseremonie afgesluit met ‘n onvergeetlike uitvoering van My African Dream.

“Dit maak my bly om te sien hoe netbal in ons land groei. Suid-Afrika het dalk teen Ghana in die Statebondspele verloor, maar dit is deel van die groeiproses. Kyk net hoe ontwikkel die sport in landelike gebiede. Hierdie spanne wen miskien nie baie wedstryde nie, maar die belangstelling is daar. Die opgewondenheid is daar en dit is gesond vir die sport,” sê Botha.
Die algehele wenners was Johannesburg in die senior A-afdeling en Tshwane in die o.21-afdeling.
Dr Kenneth Kaunda se senior A-span vat die derde plek.
Dr. Kenneth Kaunda se o.21’s kom tweede in hulle afdeling nadat hulle verlede jaar as wenners gekroon is.
Uitslae:
Senior A finaal: Johannesburg 24 – Tshwane 23
o.21 A – finaal: Tshwane 38 – Dr Kenneth Kaunda 27
Spelers van die toernooi – Senior
Doel – Nomfundo Mngomezulu (Johannesburg)
Senter speler – Refilwe Nketsa (Mangaung)
Verdediger – Jeante Strydom (Tshwane)
Speler van die toernooi – Tarle Mathe (Johannesburg)
Spelers van die toernooi – Junior
Doel– Alyssa Trahms (Mangaung)
Senter speler – Phophi Nematangari (Tshwane)
Verdediger – Favour Umeh (Dr Kenneth Kaunda)
Speler van die toernooi – Kaylie van Wyk (Tshwane)
Mees gevorderde speler – Esther Thoka (Capricorn).




