SportSport

NWU lektor stoom voort na derde plek in Comrades-debuut

Broodryk se derde plek is 'n voorbeeld van haar deursettingsvermoë, wilskrag en geloof in die Here.

Eerste indrukke is blywend en die Potchefstroomer, dr. Adele Broodryk, het met ‘n briljante Comrades-debuut seker gemaak dat sy haar beste voet voorsit met ‘n derde algehele plek in die 2022 Comrades Marathon, wat op Sondag, 28 Augustus plaasgevind het.
Broodryk, ‘n senior lektor in menslike bewegingskunde aan die Noordwes Universiteit (NWU), is ook die eerste Suid-Afrikaanse vrou oor die wenstreep in vanjaar se Comrades wat vanaf Pietermaritzburg na Durban plaasgevind het.
Sy het Suid-Afrikaners se harte laat juig en jubel toe sy die voortou geneem het in hierdie wedloop, maar sy kon net nie die pas van haar Europese opponente, Alexandra Morozova (eerste in 6:17:48) en Dominika Stelmach van Poland (tweede in 6:25:09 ), volhou nie.
Broodryk, wat vir Murray & Roberts Hardloopklub verteenwoordig, het in 6:26:35 klaargemaak. Sy het ook ‘n gemiddelde spoed van 4:19 min/kilometer gehandhaaf.
Broodryk se derde plek is ‘n voorbeeld van haar deursettingsvermoë, wilskrag en geloof in die Here. In 2016 het sy twee operasies aan haar regervoet ondergaan wat haar liefde vir hardloop amper in die wiele gery het. Sy het intense pyn beleef, maar in haar grootste beproewing het God haar deurgetrek.
Nou ses jaar later is het sy 90 kilometer agter die rug en ‘n splinternuwe Comrades-medalje om haar nek.
Vreugde is ‘n Comrades-medalje om jou nek en ‘n beker in die hand. Hier is Adele Broodryk na sy die eerste Suid-Afrikaanse vrou oor die eindstreep is.
“Ek het ‘n absolute droom Comrades-debuut gehad. Ek het effens aggressief uitgegaan in die begin, maar dit het fantasties gevoel. Die verste afstand wat ek nog gedoen het was slegs 60km, so ek het nie geweet hoe my liggaam van die merk af gaan voel nie. Van 65km af kon ek voel my lyf is in effense skok, maar ek het net vasgebyt,” noem Broodryk.
Haar man, Retief, was ook ‘n groot bron van inspirasie vir Adele gedurende die wedloop waar elke stuk aanmoediging ekstra energie verskaf.
“Elke keer wat ons deur skare mense gehardloop het was vir my ‘n hoogtepunt en net ‘n bron van energie. Ek was geseënd dat my man my “seconding” gedoen het, so om hom op sekere merkers te kon sien het baie gehelp. ‘n Groot hoogtepunt is om die eerste Suid Afrikaanse vrou te wees oor die streep,” vertel sy.
Die NWU dosent, Dr. Adele Broodryk, het ‘n derde plek in die 2022 Comrades marathon op Sondag, 28 Augustus, behaal.
Hierdie kranige atleet vertel dat haar plan nie was om so vinnig al voor te hardloop nie, maar weens die feit dat sy na 15 kilometer baie sterk gevoel het, het sy die pas toe opgetel.
“Ek en my afrigter (Lindsey Parry) het ‘n gedetailleerde plan uitgewerk basseer op my sterk en swakpunte. Ons het baie gewerk aan my spoed, en glo dit oorgedra na die ultras.  Hoe verder ek hardloop hoe meer gemaklik raak ek,” noem Broodryk, wat na nog Ultramarathons uitsien.
Dr. Adele Broodryk, het ;n briljante derde plek in haar eerste Comrades Marathon behaal. Foto: Verskaf.
“Dit vat jare se harde oefen, deursettingsvermoë, vroeg opstaan en baie opofferings vanaf beide my en my man om die moontlik te maak. Ek het altyd gesê my eerste Comrades wil ek net ten minste klaar maak. Maar na n fantastiese jaar van hardloop het ons begin droom vir ‘n top 5 posisie. So om op die podium te eindig is werklikwaar ‘n droom wat bewaarheid is,” vertel sy.
Broodryk, ‘n werkende ma van twee kinders, weet dat sy nie kon kom waar sy vandag is, as dit nie vir die Here se hand oor haar is, sowel as haar gesin en familie se bystand nie.
“My Hemelse Vader het my voet genees en my die talent en wilskrag gegee. My man ondersteun my ook ongelooflik.  Hy het altesame 10 naweke alleen met ons kinders (Ansu-May – 2 jaar en Caleb – 5 jaar) gesit terwyl ek weg was op kompetisies. Ek kom altyd terug na hom wat glimlag. My ouers en skoonouers – beide oumas het spesiaal afgevlieg na die Comrades om na die kinders te kyk,” meen sy.
Broodryk het ook groot lof vir haar spanbestuurder by Murray & Roberts, Dana Coetzee, sowel as haar afrigter, Lindsey Parry.
“Verlede jaar het ek by die hardloopklub (Murray and Roberts) aangesluit en sy woorde aan my was dat ons my gaan regkry vir ‘n goue Comrades eendag. Ek is ook dankbaar vir Lindsey se leiding en kennis.”
Volgens hierdie 31-jarige Comrades atleet kan enige Potchefstromer met ‘n Comrades-droom hierdie epiese wedloop voltooi.
“Skryf in. Jy kan dit doen! Of jy ‘n huismamma of ‘n werkende persoon is. Jy hoef nie duisende kilometers af te lê om dit te maak werk nie. The sky is your limit!” 
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button