Potchefstroom Gimnasium het vir Grey High van Port Elizabeth (Gqeberha) die afgelope Saterdag, 10 September op Grey se tuisveld met twee paaltjies in ‘n riller van ‘n wedstryd geklop.
‘n Ongelooflike terugvegpoging en onoorwonne 98 lopie vennootskap om die negende paaltjie tussen Zavier van Rensburg 53* (68) en Jonathan Eybers 48* (61) het vir Gimmies die oorwinning besorg.

Gimmies moes 221 vir oorwinning in die hierdie 50-beurt wedstryd behaal nadat Grey High 220/9 aangeteken het.
Gimmies se beste boulers op die dag was Marnu Cronje (3/27) en Van Rensburg met (3/51).
Grey High se boulers het vroeg toegesak op hierdie Gimmie-span wat sonder enige matriekspelers gespeel het.
Michael Grey (3/44) en Daniel Rusto (1/31) en De Wet Goedels (2/51) was venynig met die nuwe bal. Tommie Botha, James Wood en Caiden Seleka is almal uit vir nulle. Ruan Lotz (29) en Marnu Cronje ((25) het sake probeer regstel maar hulle is ook kort na mekaar uit.
Die Potchefstromers was knie diep in die moeilikheid op 121/8 toe Eybers vir Van Rensburg in letterlik en figuurlike donker omstandighede op die kolfblad ontmoet.
Hierdie twee spelers het vasgebyt en ten spyte van ‘n sterk Grey span en moeilike kolfkondisies dit reggekry om te wen toe verloor makliker gelyk het.
Potchefstroom Gimnasium se eerstespan krieketafrigter, Wian Lubbe, was vol lof vir sy span se veggees en noem dat hy nog nooit in al sy jare van afrigter so iets beleef het nie.
“Dit was iets wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie. Ons was 121/8 en toe ons weer sien toe begin dit om te reën. Die skeidsregters het besluit dat ons op die veld bly ten spyte van die reën, omdat daar nog net twee paatjies oor is. Ons seuns kolf toe voort deur die reën en donker. Grey het hulle snelboulers wat vir OP o.19 speel, opgebring. Een van hierdie boulers is ook in die o.19 SA oefengroep.
“Ons matrieks het nie gespeel nie, so net ons graad 10’s en 11’s het gespeel. Daar was net vyf seuns wat eerste span speel. Die res is gewoonlik in die tweede span en hulle het nou hulle kanse benut. Om ‘n volsterkte Grey High span met hulle matrieks te wen, sit die kersie op die koek,” beaam Lubbe.
Gimmies se eerste span het die geleentheid om nou komende naweek weer Grey Kollege van Bloem te klop, nes hulle verlede jaar gemaak het.
“Ons moet nou net hierdie naweek teen Grey Kollege ook wen. Dan klop ons weer altwee Grey skole in een jaar,” meen Lubbe.




