SportSportSport

Gimmie blink uit in Pakistan T20-krieketliga

Johan is genooi om in die gesogte Pakistan Junior League T20 toernooi vanaf 6-21 Oktober in Lahore te speel, waar top internasionale spelers saam met Pakistan se top jong talent kragte meet.

Een van Potchefstroom Gimnasium se eerste krieketspan sterre, Johan Mahne, is tans besig om sy krieketvaardighede na ‘n nuwe vlak in Pakistan te neem.

Hierdie 18-jarige is genooi om in die gesogte Pakistan Junior League T20 toernooi vanaf 6-21 Oktober in Lahore te speel, waar top internasionale spelers saam met Pakistan se top jong talent, kragte meet.

Ses spanne spook sake uit vir die titel naamlik die Bahawalpur Royals (Johan se span), Gujranwala Giants, Gwadar Sharks, Hyderabad Hunters, Mardan Warriors en Rawalpindi Raiders. Die Pakistan Krieketraad voorsitter, Rameez Raja, het die idee in realiteit laat verandder met die doel om junior spelers op te hef en blootstelling tot professionele krieket te kry.

Krieket se grootste internasionale sterre dien ook as mentors vir die spanne. Johan se mentor is die voormalige SA draaibalbouler, Imran Tahir. Ander mentors by die toernooi sluit in Shahid Afridi, Sir Viv Richards, Shoaib Malik, Colin Munro en Daren Sammy.

Johan, afkomstig van Carletonville waar sy ouers steeds woon, het sedert hy by Gimmies aangesluit het naam gemaak in die provinsie en ook al NW-kleure in krieket behaal. Die toernooi in Pakistan is dus ‘n groot sprong in kwaliteit krieket, maar een waarvoor beslis gereed is.

Hy het alreeds in sy eerste wedstryd ‘n paaltjie met ‘n puik uitswaai-aflewering geneem. Nie net kry hierdie kranige veelsydige speler geleentheid om ‘n nuwe land te besoek en die krieketkultuur te leer nie, maar kry hy ook afrigting van top spelers en afrigters.

Johan Mahne tydens ‘n oefensessie in Pakistan vir die Bahawalpur Royals. Foto: Pakistan Junior League/Instagram.

Gordon Parsons (hoofafrigter), Imran Farhat (kolfafrigter) en Imran Tahir (mentor) is maar van die name wat raad en waardevolle insig vir Johan en die ander spelers in sy span verskaf.

Parsons, wie ook verbonde by Gimmies se krieket is, het vir Johan opgeroep na die span in Pakistan.

“Ons is baie dankbaar vir die geleentheid wat Johan kry, juis omdat Gordon ook ‘n afrigter van die span in Pakistan is. Dit gee vir Johan die geleentheid om by die beste afrigters en voormalige internasionale spelers te leer,” noem sy trotse pa, Reinhardt.

Hy vertel ook dat hierdie geleentheid vir Johan beslis die beste leerskool is, nie net op die veld nie, maar ook hoe om op professionele vlak voor te berei vir wedstryde.

“Hy kan nou al die vaardighede wat hy daar leer in sy krirket toepas as hy terugkom ook. Dit is ‘n absolute leerskool. Hy groei as mens en hy kan werk aan sy Engels ook,” meen hy.

Met Johan se aankoms in Pakistan was die kondisies beslis iets om aan gewoond te raak met die lugdruk wat ook baie anders in Lahore is.

Die professionele aspek van die toernooi is ook van so aard dat Johan sommer ‘n stywe $600 (R 10 908) ontvang as een van die x-faktor spelers.

Verder het Johan ook ‘n nuwe borg (Malik) gekry vir sy kriekettoerusting.

Johan Mahne met sy nuwe kriekettoerusting.

Met die toernooi wat nog 11 dae duur is die kanse goed dat Johan verder naam gaan maak in die sub-kontinent en beslis met meer as ‘n krieketsak vol vaardighede sal terugkeer na Potchefstroom.

*Die aksie kan op YouTube by Pakistan Junior League gevolg word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button