Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste krieketspan het hul vanaf 6 tot 8 Januarie goed van hul taak gekwyt tydens die Grey Krieketfees by Grey-Kollege in Bloemfontein.
Volkies begin die toernooi met ‘n tweedag wedstryd teen Durban High School wat onbeslis eindig.
Volkies se ster in hulle eerste kolfbeurt van 234/7 is Diaan van der Merwe wat 105* aanteken.

DHS se kolwers word vir net 57 in hulle eerste beurt uitgeboul. Kobus Pienaar (3/14) en Attie Liebenberg (3/5) maak amok hier met puik boulwerk. Dit besorg aan Volkies ‘n voorsprong van 177 lopies.
Hulle samel vinnig 86 lopies in vir die verlies van 9 paaltjies voordat hulle hul tweede beurt verklaar. DHS se kolwers maak ‘n beter poging in die tweede beurt en eindig op 244/8.
Volkies kon net nie die laaste twee paaltjies vir oorwinning kry nie en moet tevrede wees met ‘n onbesliste uitslag. Die draaier, Dian Liebenberg neem 4/38 vir Volkies. Sake is moeiliker vir Volkies in hulle 50 beurt wedstryd teen Glenwood. Hier word hulle vir 97 uitgeboender voordat Glenwoord op 98/4 eindig en met ses paaltjies wen. Volkies stof hulself af en eindig die toernooi op ‘n hoë noot met ‘n vyf-paaltjie oorwinning teen St. Andrews. Attie Liebenberg moker 62 van slegs 33 balle om St. Andrews se totaal van 171 te haal.




