Lopies loop soos stroop van Volkies se talentvolle aanvangskolwer, Ludwich Schuld, se kolf af.
Na ‘n seisoen vol soet oomblikke vir sy skool op die krieketveld, het hy die kersie op die koek gesit met sy vertoning by die 2022 o.19 Khaya Majola Nasionale Krieketweek.


Schuld is die enigste speler van Noordwes wat vanjaar in die SA Skole krieketspan ingesluit is. Dit volg nadat hy vanaf 15 tot 18 Desember ‘n uitstekende toernooi vir sy provinsie by die bogenoemde krieketweek in Stellenbosch behaal het.
Schuld slaan 141 lopies teen ‘n gemiddeld van 70.50 en kolftempo van 115.57. Hy teken ook ‘n honderdtal aan. Sy aggressiewe beurt van 119* (97) wat 4 viere en 10 sesse ingesluit het, is kenmerkend van hierdie talentvolle linkerhandse kolwer.
“Ek was ongelooflik bly. Ek het gevoel ek verdien dit, veral na die eerste dag se honderdtal. My harde werk is deur die jaar beloon. Ek het baie vertroue in my spel gehad,” noem hy.
Vanjaar is Schuld in matriek en het die geleentheid om in die nuwe jaar net verder op hierdie vertoning van 2022 voor te bou. Hy vertel dat hy graag wil aanhou om goeie besluitneming toe te pas en sy planne in sy spel beter wil implementeer.
“Die grootste doelwit is om die meeste lopies op Noord-Suid te slaan aangesien ek die afgelope twee keer naby was. Ek wil ook graag weer die SA Skolespan haal.”
Schuld is ook vir die Western Legends Cubs span gekies en het sy merk by hierdie week in Stellenbosch gemaak. Hierdie belowende krieketspeler sonder graag sy afrigter, Andries Huisamen, uit wat hom sedert graad 6 al afrig en ook op hoërskool gelei het.

“Mnr. Andries is een van die belangrikste mense in my lewe en krieket wat my gehelp het deur al die moeilike en goeie tye ook. Ek wil net baie krediet aan hom gee en dankie sê vir alles,” vertel Schuld.
Sy ouers, Ludwich en Melinda en sussie, Abigail, het ook ‘n baie groot rol in sy krieket gespeel en noem graag dat hy hulle ongelooflik waardeer.
“My ouers en my sussie offer baie naweke vir my op om my te ondersteun en tyd te maak vir my krieket.”
Sy gunstelinghoue is die trekhou en die dekpunt-dryfhou. Sy hoogste telling in T20-wedstryde is 136 en in 50 beurt wedstryde is dit 200*. Hy noem dat sy sukses van harde werk en liefde vir die spel afhang.
“Geniet elke oomblik van jou krieket en werk hard, want harde werk word altyd beloon. Moet nooit moed opgee nie.”




