SportSport

Laaste paaltjie vennootskap neem Potch Dorp na naelbyt-oorwinning teen NWU

‘n 18-lopie vennootskap vir die tiende paaltjie tussen Xander van Gass en JP le Roux het vir ‘n senutergende einde op die NWU-Oval op Saterdag, 4 Februarie gesorg.

Potch Dorp Krieketklub se eerste span het vir die eerste keer in 10 jaar vir die NWU se eerste krieketspan in ‘n NW Premierliga wedstryd gewen op die mees dramatiese manier moontlik.

‘n 18-lopie vennootskap vir die tiende paaltjie tussen Xander van Gass en JP le Roux het vir ‘n senutergende einde op die NWU-Oval op Saterdag, 4 Februarie gesorg. Van Gass het ‘n ses gemoker en saam met Le Roux kon hulle die oorwinning met 1 paaltjie behaal met drie balle oor in die beurt.

Potchefstroom Dorp Krieketklub het ‘n fantastiese 1-paaltjie oorwinning teen NWU se eerste krieketspan behaal. Dit is die eerste keer in 10 jaar dat hulle die NWU klop. Foto: Verskaf.

Sodoende kon hulle die NWU se totaal van 253 almal uit verbysteek (254/9) en ‘n stroopsoet sege geniet op hulle teenstanders se tuisveld. Na ‘n dekade van groot nederlae asook taai tweestryde, het die bal uiteindelik na Potch Dorp se kant toe gerol.

“Dit was baie stresvol in die begin, maar ek en JP het net besluit om vir dit te gaan en op die ou einde kon ons wen. Die ses was ook baie spesiaal en almal was na dit tyd vreeslik gelukkig. Ons het lekker gekuier en die wen gevier na die tyd,” noem Van Gass.

Potch Dorp het 18 lopies van die laaste twee boulbeurte benodig. Le Roux teken ‘n vier aan van die laaste bal van die 49ste beurt en los vir Van Gass voor die paaltjies om 10 lopies van die NWU snelbouler, Jesse Albanie se boulbeurt te slaan.

Xander van Gass het die wenlopies saam met JP le Roux geslaan. Foto: Wouter Pienaar.

Van Gass slaan die eerste bal vir ‘n groot reguit ses oor Albanie se kop en teken 2 lopies met die volgende twee balle aan om die wen te beklink.

“Almal hier by Potch Dorp het ‘n goeie verhouding met mekaar en ons geniet dit om saam krieket te speel. Hier is ‘n goeie kultuur,” vertel Van Gass, wat in 2021 by Potchefstroom Gimnasium matrikuleer het.

Die voormalige NW Dragons speler en bekende oud-Volkies krieketafrigter, Andries Huisamen, het ook weer in ‘n derby gespeel en 31 vir Potch Dorp aangeteken.

Dorp se top kolwer was Reinardt Engler wat ‘n puik 53 (74) geslaan het om die beurt te anker. Die voormalige Volkie, Christiaan Bester het ook goed gelyk vir sy 39 (52). Potch Dorp was in die moeilikheid op 218/7 en toe 239/9 toe Hardus Coetzer (1/24) en Conrad van Dyk (3/45) toeslaan.

Le Roux (‘n oud-NWU speler) en Van Gass het wel ander planne gehad.

JP le Roux neem 3/24 in 9 boulbeurte vir Potch Dorp. Foto: Wouter Pienaar.

Le Roux het self ook fantasties geboul en was grootliks die rede dat hulle NWU tot 253 beperk het. Sy 3/24 in 9 boulbeurte was uitstekend. Hy het die gevaarlike JP King vir ‘n nulletjie uitgehaal en ook later paaltjies in die middelorde gekry. Heinrigh Pieterse se 55 (70) en Khanya Cotani se 66 (86) was die top beurte wat die studente gelewer het.

Heinrigh Pieterse het ‘n vyftigtal vir die NWU geslaan. Foto: Wouter Pienaar.

Hanru Swanepoel (4/46) was ook ‘n groot staatmaker vir Dorp met die bal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button