Die Luiperds het Saterdag, 11 Februarie, hulle Curriebeker eerstedivisie veldtog met ‘n beslissende oorwinning afgeskop.
Die Luiperds het sewe drieë gedruk om die wedstryd uiteindelik 46 – 15 te wen. Die Luipies se skietgoed op die punte was te veel vir die Grens om te hanteer, die vleuels, Keenan Twigg en Sinothando Tshontsyi het seker gemaak dat dit ‘n lang dag vir die manne van die Grens is. Twigg het ‘n uitstekende driekuns gedruk en Tshontsyi het twee drieë bygedra.
Danrich Visagie en Ryno Visagie het ‘n drie elk tot die Luipies se sege gevoeg. Ryno Visagie wat op haker vir die Luiperds geska het, het verlede jaar nog vir Potch Dorp Rugbyklub se eerstespan uitgedraf. Saterdag was sy debut vir die unie en hy het homself baie goed van sy taak gekwyt.

Dit is goed om te sien dat klubspelers goed by die unie doen. Dit behoort ander klubspelers aan te moedig om hulle spel te lig.
Volgens Eric Herbert, hoofafrigter van die Luiperds, is hy baie tevrede met hoe sy troepe gevaar het.
“Daar is hier en daar ‘n paar dingetjies wat ons moet aan werk maar ons is baie teverede, veral ook met die manne wat uit klubstrukture kom en baie goed doen by ons,” het Herbert gesê.
Die Luiperds se volgende uitdaging is komende Saterdag, 18 Februarie, teen ‘n gevaarlike Oostelike-Provinsie span. Diè span van die Oos Kaap het hulle eerste wedstryd teen ‘n SWD gewen. Tydens die wedstryd was dit slegs die OP se stelskopper wat die verskil gemaak het. Alhoewel dit ‘n moeilike wedstryd vir die Luiperds kan wees, sal hulle weer tuisvoordeel geniet.
Volgens Herbert gaan dit nie ‘n maklike wedstryd wees nie.
“Ons sal 100% moet lig teen OP. Hulle het verlede jaar in die eindstryd gespeel en het nie baie spelers verloor nie. Hulle het ‘n groot pak voorspelers waarvoor ons moet planne maak,” het Herbert verduidelik.
Almal weet dat jy nie sommer by die Hoenderhok opdaag en net wen nie. Die Noordwesters maak seker dat hulle teenstanders vir lank onthou dat hulle op Olënpark gespeel het.
Diè wedstryd skop om 15:00 af. Toegang is gratis en Klub 50 sal weer oop wees om toeskouers se honger en dors te les.



