Die voormalige Laerskool Mooirivier o.13A krieketkaptein van 2022, Schalk Coetzee, het nou in die nuwe jaar sy stempel alreeds by die Afrikaanse Hoër Seunsskool (Affies) afgedruk.
Hierdie Potchefstromer wat sy hoërskoolloopbaan vanjaar by Affies begin het, het alreeds vir die o.14A-krieketspan puik vertonings in 2023 gelewer.
Hierdie jong seun het nog altyd ‘n kriekettalent getoon en klomp kere wedstryde in Tokkies se guns geswaai – nou lyk dit of hy met dieselfde passie en intensiteit by een van die top hoërskole in die land dieselfde doen.

Tydens ‘n onlangse Kaapse kriekettoer, het Schalk teen Paul Roos Gimnasium, Wynberg Boys High en Rondebosch Boys High, fantasties geboul. Affies het al drie hulle wedstryde gewen.

Hy behaal syfers van 6/19 in ses boulbeurte teen Paul Roos en volg dit op met 3/23 in 8 beurte teen Rondebosch. Teen Helpmekaar-kollege vroeër die maand, behaal die tiener 4/23 met akkuraatheid en swaai.
Kyk na sy boulwerk hier:
Affies is bekend dat hulle al ‘n hele rits top professionele krieketspelers op nasionale en internasionale vlak gelewer het: AB de Villiers, Faf du Plessis, Jacques Rudolph, Heino Kuhn, Neil Wagner en Kruger van Wyk, om maar ‘n paar te noem.
Die jong Schalk (sy pa se naam is ook Schalk), het nou sodoende ‘n goue geleentheid om sy krieketalent na groot hoogtes te neem met van die land se beste skoleafrigters net buite sy klaskamer.




