
As ‘n mens nie weet wat om op ‘n Maandagaand in Potchefstroom te doen nie, dan was jy duidelik nog nie by die Fanie du Toit-sportgronde vir ‘n Varsitybekerwedstryd nie.
Inderwaarheid, moet dit op elke Potchefstromer se bucket list wees.
Daar is talle redes hoekom die Varsitybeker so populêr onder studente, rugbyondersteuners en Jan Alleman is.
Kyk maar na hoe volgepak die Fanie op Maandae is en hoe kleurvol en uniek die ondersteuning vir die NWU Arende is.
Die rugby is opwindend om te kyk, die aksie is aanhoudend en die aanbieding van die NWU is puik – heel moontlik in my opinie die beste in die land (al sal ander universiteite, nie noodwendig saamstem nie).
Buiten die atmosfeer op die Fanie, is daar ‘n ander belangrike rede hoekom die Varsitybeker vir soveel hoendervleis-oomblikke sorg.
Die onvoorspelbaarheid.
Niemand kan sê dat hulle verwag het dat die NWU vir hulle tradisionele teenstanders, Shimlas, met 63-16 sou pak slae gee nie.
Die rugby was ‘n skouspel van drieë en gewys net hoe gemotiveerd spelers raak as die atmosfeer op kookpunt is.
Buiten die NWU se positiewe resultaat, was daar elders ook uitstekende wedstryde wat ondersteuners laat jubel en juig het (ander het wel oopmond na die telbord in ongeloof gestaar)
CUT van Bloem klop vir Maties vir die eerste keer met 23-19 in een van die grootste skok-oorwinnings in Varsitybeker geskiedenis.
En dit nog in Stellenbosch op die Danie Craven-stadion. Dit is net weer ‘n bewys hoe kompeterend hierdie kompetisie is.
Ikeys klop vir Tukkies oortuigend met 40-19, terwyl Wits een van die grootste terugvegpogings loods om met 35-30 te wen. Dit nadat hulle 0-30 teen halftyd agter was. Ek weet nie wat vir die Wits spelers gevoer is nie, maar magtig dit het gewerk!
Dit is sulke uitslae wat die Varsitybeker spesiaal maak en hoekom al hoe meer spelers dit as ‘n deurweg na professionele en internasionale rugby sien.
As jy dit hier kan maak dan gaan jou deure oop.
Maandagaande is ‘n fees van rugby, maar ook oomblikke wat die lewe vier: Die beeldskoonheid van ‘n 70 meter individuele drie, die spanning van ‘n laaste minuut skop pale toe vir ‘n wen, en die karakter van ‘n terugvegpoging.
Lank lewe Varsitybeker!




