
Zanri Grobbelaar is sinoniem met podiumplekke by verskeie bergfietsresies vandat sy in 2019 met haar fiets by Hoër Volkskool Potchefstroom beland het.
Hierdie kranige fietsryer, wat vanjaar ‘n tweede plek in die SA nasionale skolebergfietswedren en ‘n derde plek in die interskole wedren losgery het, het ‘n passie vir spoed en staan nie terug vir haar teenstanders nie – tensy sy ‘n hindernis op die baan met ‘n spesifieke tegniek moet oorkom.
Zanri se liefdesverhaal met bergfietsry het in 2018 in Secunda begin toe sy as ‘n graad 7-leerder reeds groot belangstelling en talent in hierdie sport getoon het. “Eerstens sou ek dit nooit kon doen as dit nie vir Jesus was nie. Hy het my krag gegee. Verder is dit oefen, oefen, oefen. Sonder my ondersteuningspan, my ma en pa ‘coach’ sou ek ook dit nie kon doen nie,” verduidelik Zanri. “Dit was bitter warm maar ‘n groot belewenis om teen die land se beste skolefietsryers te ry en met soveel trots op die podium te kon staan,” voeg sy by.
Vir Zanri is fietsry ‘n manier om haar kop skoon te kry. “Ek voel altyd beter as ek terugkom van ‘n paar kilometer met my fiets. Natuurlik ook die mooi plekke waar ons ry en gawe mense wat jy ontmoet,” verduidelik Zanri.
As Graad-7 leerder in Secunda het hierdie jong bergfietsryer gereeld aan die Spur skole fietsryreeks deelgeneem en haar passie vir hierdie sport verder laat vlamvat.
In 2019 verhuis die Grobbelaars na Potchefstroom en sy bring haar fiets saam. Sy word in daardie jaar gekies om Noordwes te verteenwoordig by die Spur SA Skole-reeks wat by Hoërskool Wagpos in Brits aangebied is. In beide 2020 en 2022 word sy gekies vir die NW XCO en XCM spanne.
Tydens 2022 se skolebergfiets interprovinsiaal in Tzaneen trap sy ‘n eerste plek los vir haar provinsie. Behalwe vir die skolereekse behaal sy gereeld podiumplekke by ander byeenkomste soos in die King Price Trailseeker reeks, Fedhealth Magaliesmonster MTB Classic. Sy behaal ook vroeg in Oktober ‘n 2de plek in die Gaan Wild 60 km XCM kompetisie vir junior vroue.
Zanri vertel dat Volkies ‘n fietsryfamilie is waar almal vir mekaar omgee en ‘n hegte eenheid is. “Ons Volkiesspan is soos familie, jy voel altyd tuis. Almal is daar om te skree, aan te moedig en hand by te sit. Onder ons fietsryers is daar ‘n lekker gees!”
Dit is sodoende nie vreemd dat haar lekkerste herinneringe die Eeufees-fietstoer is wat Volkies in 2022 aangepak het nie. Hierdie matriekleerder aan Volkies beplan om volgende jaar Aptekerswese te gaan studeer aan die NWU.
Buiten die komende studies kan Potchefstromers steeds verwag dat Zanri nie ver van haar fiets af sal wees nie. Sy beplan om na skool aan te hou om ‘n hele paar myle op die fiets deur te bring en nog podiumplekke te jaag.