Local newsSportSport

’n Fees van sport, spanwerk en geesdrif

Mielieland 2025 vier rolbal, sportmangees en gemeenskap met meer as 200 spelers en R40 000 prysgeld.

Die 2025 Mielieland Rolbaltoernooi het weer eens Potchefstroom op die sportkaart geplaas toe spelers, ondersteuners en gemeenskapslede van regoor Suid-Afrika en selfs Namibië bymekaargekom het vir drie dae van kompetisie, vriendskap en feesviering.

As hoof gasheerklub het Potchefstroom Country Club (PCC), saam met Potchefstroom Rolbalklub en Parys Rolbalklub as medegasheers, ’n toernooi aangebied wat veel meer as net rolbal was. Volgens Aneska Richter, president van PCC Rolbal, was Mielieland 2025 ’n hoogtepunt op die Noordwes Rolbalkalender en ’n viering van sportmangees, spanwerk en gemeenskapsamehorigheid.

“Mielieland is al lank meer as net ’n kompetisie,” vertel Richter. “Dit is ’n saamtrek van mense wat ’n passie vir die spel en vir mekaar deel. Hierdie jaar was geen uitsondering nie.”

Vriendskappe is tydens die toernooi gesmee

Meer as 200 spelers en ondersteuners het deelgeneem, met meer as 50 spanne wat meegeding het vir R40 000 se prysgeld. Spanne het van heinde en verre gekom, onder andere uit Namibië en die Noord-Kaap, wat bygedra het tot ’n besonderse atmosfeer op en van die bane.

Die kompetisie was fel, maar sportief, en die gees onder spelers en toeskouers het Mielieland se reputasie as een van die mees geliefde rolbaltoernooie in die land bevestig. Richter het haar dank uitgespreek teenoor al die borge, organiseerders en vrywilligers wat agter die skerms gewerk het om die toernooi moontlik te maak. Sy het ook spesiaal Potchefstroom Rolbalklub en Parys Rolbalklub bedank vir hul samewerking en ondersteuning.

Uitslae vir vanjaar se toernooi:
1ste plek – Mieliepap (Jaco Nel en span)
2de plek – Sound of Silence (Herman Bakkes en span)
3de plek – Bowling Buddies (Johan van den Heever en span)
4de plek – Despicabowls (Werner Hildebrand en span)
5de plek – Irene Misfits (Ian Mossop en span)

’n Spesiale vermelding gaan aan die PCC-spelers wat uitsonderlik goed gevaar het en die klub se naam met trots hoog gehou het.

“Mielieland 2025 was ’n herinnering aan die dinge wat rolbal so besonders maak – vriendskap, spanwerk en die vreugde om saam iets te bou wat groter is as onsself,” sê Richter. “Mag hierdie jaar se Mielieland vir ons almal ’n herinnering wees aan wat ons kan bereik wanneer ons saamwerk met trots, respek en passie vir die spel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button