Die NWU Eagles het in ‘n wip-wa stryd teen Maties met 26-30 in Stellenbosch verloor nadat hulle slegs ‘n paar minute van ‘n wen af weg was.
Die NWU was nog met drie punte voor met die telling op 26-23 in die besoekers se guns, maar Maties het die laaste sê gehad toe oopklantflank, Louw du Toit oorduik om sy span die sege te gee.

Dit was ‘n stryd van twee helftes met die NWU wat baie beter in die tweede helfte gespeel het en Maties wat die eerste helfte beheer het om ‘n 18-3 voorsprong teen rustyd te hê.
Maties het vroeg in die wedstryd hul stempel afgedruk met ‘n strafdrie wat toe met ‘n drie verdoel is om ‘n 12 punt aanslag te voltooi. NWU kaptein, Stephan Krugel is ook ‘n geelkaart toegedien om verder sout in die wonde te smeer.
Louis Fourie, CJ Erasmus, Keanuh Michaels en Du Toit het verdere drieë vir Maties gedruk.
Die NWU het goed uit die blokke in die tweede helfte gekom met Hanro Venter en Leejay Petersen wat gaan druk om die NWU die voorsprong te gee. Petersen se drie is heel moontlik een van die bestes in vanjaar se kompetisie. Die NWU het van hul eie doellyn die bal gehardloop en die bal lewendig gehou met goeie spel deur Matthew Fortuin en Luan van der Walt. Van der Walt het tot by die 22-meter lyn gekom voordat hy grond toe gebring is. Zack Serfontein het vir Petersen die bal aangegee en die senter is deur twee verdedigers voor hy gaan druk.
Die wind het ‘n groot rol in die wedstryd gespeel met albei spanne wat dit in hul guns kon gebruik. Dit het skoppe pale toe ook bemoeilik.
Na Michaels vir Maties oor is om weer vir Maties te laat voorloop, veg die NWU dadelik terug met die linkervleuel, Logan Janeke wat oorduik. Die NWU kon te midde van goeie verdediging op die ou einde nie daarin slaag om die wen deur te trek nie.
Die NWU is nou in die tweede plek op die punteleer op 23 punte met Tukkies bo op 26 punte. Maties is derde met 21 punte en UJ vierde op 21 punte.
Die NWU kom teen UCT-Ikeys te staan komende Maandag, 30 Maart op die Fanie du Toit Sportgronde en sal die wedstryd moet wen om ‘n tuishalfeindstryd te verseker.
Kaartjies vir hierdie wedstryd maak vandag om 13:00 oop en verkoop soos blits, gewoonlik onder ‘n minuut.
Kliek op hierdie skakel om kaartjies vir die wedstryd te kry.



