Potchefstroom Gimnasium se o14A en o15A-rugbyspanne is deur na die Noordvaal Virsekerbeker half-eindstryde nadat hulle gemaklik vir Hoërskool Die Anker op die Mooivallei Sportgronde geklop het vanoggend (Saterdag, 1 Augustus).
Gimmies se o14’s het met 36-15 gewen, terwyl die o15’s met 38-7 die oorhand gehad het.
By die o14A’s was die binnesenter, Cayden Powell, uitstekend op die aanval en het Die Anker se verdediging gedurig laat sweet en na lug laat gryp. Hy het twee drieë gedruk, vier drieë verdoel en ‘n strafskop oorgeklits.


Fanie Barnard, Tshepang Lekoma en Christiaan Liebenberg het ook vir Gimmies gedruk.
By die o15s het die slot, Joshua Nieuwenhuizen, ‘n driekuns van drieë behaal, wat ‘n uitstekende prestasie is. Gimmies het vroeg die momentum gehad toe Katlego Mphamo vir Gimmies se eerste drie oorgaan na ‘n fout deur die besoekers. Hy het later met ‘n goeie individuele lopie sy tweede drie gedruk.
Die flank, Rea Ranaka, is ook oor vir Gimmies. Juvan Botes verdoel ook vier van Gimmies se ses drieë.





